‘Glee’-aktrise Naya Rivera word vermis

Naya Rivera (Januarie 2018) (Foto: Willy Sanjuan/Invision/AP, File)

ʼn Meer in die suide van Kalifornië bly gesluit terwyl ʼn soektog Donderdag voortduur na Naya Rivera, ʼn aktrise wat veral bekend is vir haar rol in die TV-reeks “Glee”.

Die sheriff se departement in Ventura County het bevestig die 33-jarige Rivera is die persoon na wie daar gesoek word in die water van die Piru-meer, ongeveer 90 km noordwes van Los Angeles. Die departement het Donderdag gesê duikers van ander agentskappe het ook by die soektog aangesluit.

KNBC het laat Woensdag berig Rivera het ʼn boot by die meer gehuur en haar vierjarige seun is op die boot aangetref. Hy het ʼn lewensreddersbaadjie aangehad. Rivera se identiteitsdokument is ook op die boot gevind.

Beamptes het ʼn boot- en helikoptersoektog van stapel gestuur, maar dit is deur die nag opgeskort. Die soektog het Donderdagoggend vroeg hervat.

Naya Rivera (Februarie 2016) (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP, File)

“Ons vermoed sy het in die water ingegaan, maar ons kon haar nog nie opspoor nie. Dit is moontlik ʼn verdrinking,” het kapt. Eric Buschow tydens ʼn perskonferensie gesê.

Rivera se seun is uit haar huwelik met die akteur Ryan Dorsey. Die paartjie se egskeiding is in Junie 2018 afgehandel ná vier jaar se getroude lewe.

In haar lewensverhaal Sorry Not Sorry in 2016, het sy haar seun haar “grootste sukses” genoem en gesê “ek sal nooit beter as hy kan wees nie”.

Rivera was die rasieleier Santana in die musikale komedie “Glee” wat tussen 2009 en 2015 op Fox te sien was. Sy was in 113 episodes te sien en was in ʼn verhouding met mede-akteur Mark Salling, wat homself in 2018 om die lewe gebring het ná hy skuld beken het op aanklagte van kinderpornografie.

Die reeks is geteister deur tragiese gebeure.

  • Cory Monteith (31), wat Finn Hudson gespeel het, is op 13 Julie 2013 oorlede weens ʼn oordosis heroïen en alkohol.
  • Drie maande ná Cory se afsterwe is die assistent-regisseur Jim Fuller in sy slaap oorlede weens hartversaking.
  • Produksie-assistent Nancy Motes, die suster van Julia Roberts, is in 2014 in die ouderdom van 37 oorlede ná sy in ʼn bad verdrink het. Voorgeskrewe en nie-voorgeskrewe medikasie is glo langs die bad gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.