Golden Globes: Hier is die wenners

Emma Corrin en Josh O’Connor as prinses Diana en prins Charles in The Crown. (Foto: The Crown/Twitter)

Nomadland het Golden Globes-geskiedenis gemaak met Chloe Zhao wat die eerste vroueregisseur geword het om die toekenning te ontvang vir beste dramarolprent. Zhao is ook as beste regisseur aangewys.

Netflix se The Crown het weer talle toekennings ingeryg. Emma Corrin is as beste aktrise in ’n televisiereeks (drama) aangewys vir haar vertolking van prinses Diana in die gewilde reeks. Josh O’Connor het die toekenning vir beste akteur in ’n televisiereeks (drama) gewen vir sy vertolking van prins Charles. Gillian Anderson is vir haar vertolking van Margaret Thatcher as beste byspeelster in ’n televisiereeks, minireeks of TV-rolprent aangewys. The Crown is ook as die beste televisiereeks (drama) aangewys.

Anya Taylor-Joy as Beth Harmon in The Queen’s Gambit. Foto: Netflix

Nog ’n Netflix-reeks, The Queen’s Gambit, is as beste minireeks of TV-rolprent aangewys. Anya Taylor-Joy is as beste aktrise in ’n minireeks of TV-rolprent aangewys vir haar rol as Beth Harmon. Mark Ruffalo is as beste akteur in ’n minireeks of TV-rolprent aangewys vir sy rol in I Know This Much Is True.

Schitt’s Creek is as beste musiekspel of komedie aangewys en Catherine O’Hara is as beste aktrise in ’n televisiereeks (musiekspel of komedie) aangewys. Jason Sudeikis is as beste akteur in ’n televisiereeks (musiekspel of komedie) aangewys vir sy rol in Ted Lasso.

Die ontslape Chadwick Boseman is as beste akteur in ’n rolprent (drama) aangewys vir sy rol in Ma Rainey’s Black Bottom. Boseman is in Augustus verlede jaar in die ouderdom van 43 aan kanker dood.

Chadwick Boseman (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Sacha Baron Cohen se Borat Subsequent Moviefilm is as beste rolprent (komedie) aangewys en Cohen as beste akteur in ’n rolprent (komedie).

Rosamund Pike is as beste aktrise in ’n rolprent (komedie) aangewys vir haar rol in Netflix se I Care A Lot. Andra Day is as beste aktrise in ’n rolprent (drama) aangewys vir haar rol as Billie Holiday in The United States vs. Billie Holiday.

Daniel Kaluuya is as beste byspeler in ’n rolprent aangewys vir sy rol in Judas and the Black Messiah. Jodie Foster is as beste byspeelster in ’n rolprent aangewys vir haar rol in The Mauritanian.

Minari is as beste rolprent in ’n vreemde taal aangewys en Soul as beste animasierolprent. Beste draaiboek was vir The Trial of the Chicago 7 deur Aaron Sorkin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.