‘Goodfellas’-akteur Ray Liotta sterf

Ray Liotta is in die ouderdom van 67 dood. (Foto: Robyn Beck / AFP)

Die akteur Ray Liotta, onder meer bekend vir sy rol as Henry in Martin Scorcese se Oscar-bekroonde fliek Goodfellas, is Donderdag in die Dominikaanse Republiek oorlede. Hy was 67.

AFP berig dat Liotta ten tyde van sy dood met die verfilming van ʼn nuwe riller, Dangerous Waters, in dié land besig was. Hoewel die oorsaak van sy dood nog nie bekend is nie, dui berigte daarop dat die akteur in sy slaap gesterf het.

ʼn Woordvoerder van die Dominikaanse filmowerheid sê dat Liotta se verloofde, Jacy Nittolo, saam met hom in die land was.

“Sy vra dat haar privaatheid gedurende hierdie hartseer tyd gerespekteer word.”

Hoewel Liotta ook vroeër in sy loopbaan goed gevaar het, was sy deurbraakrol beslis met Goodfellas, wat as een van die grootste rolprente van die 20ste eeu beskou word. Hy was saam met top-akteurs soos Robert de Niro en Joe Pesci in dié fliek te sien.

Ray Liotta en Jacy Nittolo het in Desember 2020 verloof geraak. (Skermskoot / Instagram / Ray Liotta)

Goodfellas het een Oscar gewen, en is vir vyf ander genomineer.

Liotta was onder meer ook in die Oscar-benoemde sportfliek Field of Dreams te sien, asook Cop Land, Operation Dumbo Drop, Wild Hogs, Blow, Unforgettable en Corrina, Corrina.

Liotta en Nittolo het in Desember 2020 verloof geraak.

Hy het dié nuus destyds só op Instagram gedeel: “Kersfeeswense word tog waar.”

Huldeblyke vir Liotta stroom sedertdien op sosiale media in.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jeff ·

Sjoe, is hy nie stokoud nie. Ek meen 67? Op daai third world island? Iets nie pas nie.

melW ·

So ń veelsydige akteur. Veral op ons ouderdom onthou ons sy eerste films tot nou. Sy familie en geliefdes is in my gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.