Google moet opdok oor lasterlike blog

ʼn Hof in Mexiko het Google die afgelope week beveel om $245 miljoen (sowat R3,9 miljard) aan ʼn Mexikaanse prokureur te betaal nadat die maatskappy toegelaat het dat ʼn lasterlike blog oor die prokureur geplaas word.

Die blog, wat in 2015 geplaas is, het die prokureur van geldwassery en vervalsing van dokumente beskuldig. Die prokureur, Ulrich Richter Morales, het toe reeds vir Google gevra om die anonieme skrywe te verwyder, maar dié het geweier.

Google sê die uitspraak is betreurenswaardig en ʼn bedreiging vir vryheid van spraak. Hy beplan om teen die uitspraak te appelleer.

Google moes die afgelope maande soortgelyke klagtes in ander lande teenstaan. Vroeër vandeesmaand het ʼn hof in Australië die maatskappy beveel om $487 000 (R7,8 miljoen) aan ʼn Australiese politikus uit te betaal nadat hy deur ʼn komediant in ʼn YouTube-video belaster is. YouTube word deur Google besit.

Intussen het die Europese Unie Donderdag ʼn gewysigde handelskode voorgelê wat moet toesien dat groot digitale platforms, soos Facebook en Google, strenger optree teen die verspreiding van vals nuus. Die ondertekenaars van die kode onderneem onder meer om lesers toe te rus om vals of misleidende inligting te identifiseer en te rapporteer. Digitale platforms moet volgens dié kode ook hul samewerking aan feitekontroleerders gee, veral wat anonieme inhoud betref.

Die kode maak wel voorsiening vir die beskerming van vryheid van spraak en waninligting sal nie onmiddellik verwyder word nie. Verbruikers sal eerder binne die teks na meer betroubare bronne verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.