Graeme Smith ‘dankbaar’ ná ouers van skip gered word

Die passasierskip Viking Sky kan gesien word in die onstuimige seetoestande naby die weskus van Noorweë. (Foto: Frank Einar Vatne / NTB scanpix via AP)

Graeme Smith, voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein, het Saterdagaand gesê sy ouers is veilig nadat hulle saam met honderde ander passasiers van ʼn skip naby Noorweë se westelike kus gered moes word.

“Dankie almal, [my] ouers is veilig per helikopter gered en word ondersoek. Dankie aan al die bemanningslede en die reddingswerkers. [Ek] waardeer almal se ondersteuning en boodskappe,” het Smith getwiet.

Net ure vantevore het ʼn bekommerde Smith op Twitter te kenne gegee dat sy ouers op die skip is en dat enigiemand met meer inligting hom asseblief moet kontak.

ʼn Uitgebreide en gevaarlike reddingsoperasie moes van stapel gestuur word om die 1 373 mense op die Viking Sky-skip te red nadat rowwe seetoestande daartoe bygedra het dat die skip se enjins probleme ervaar het. Polisiebeamptes in Møre og Romsdal, ʼn provinsie in die noordwestelike deel van Noorweë, het gesê die skip het Saterdagmiddag ʼn noodsein uitgestuur.

Die operateur van die skip het later bevestig daar is 915 passasiers en 458 bemanningslede aan boord.

Passasiers wat van die Viking Sky-skip gered is, word gehelp deur nooddienste in Hustadvika, Noorweë. (Foto: Odd Roar Lange/NTB Scanpix via AP)

Die uitsaaier NRK het beeldmateriaal getoon van die Viking Sky wat deur massiewe golwe geslaan word nie ver nie van ʼn reeks rotse langs die kuslyn bekend as Hustadvika. Verskeie helikopters en reddingsbote is ingespan om mense van die Viking Sky te ontruim.

Teen 01:45 Sondag (plaaslike tyd) is die eerste 230 mense terug na die kus gebring, waar hulle in ʼn noodskuiling in Brynhallen gehuisves is. Minstens 16 mense moes na hospitale geneem word nadat hulle beseer is en volgens die nuusagentskap NTB is drie van die mense in ʼn ernstige toestand.

Die reddingsoperasie het probleme ervaar toe die eerste vragskip wat Viking Sky te hulp gesnel het ook enjinprobleme ervaar het en in dieselfde gebied as die plesierskip gestrand gelaat is. Twee helikopters moes van roete verander om nege bemanningslede op die vragskip te gaan red.

Die reddingsaksie was ʼn stadige en gevaarlike proses aangesien die passasiers een vir een van die skip gelig moes word na die vyf beskikbare helikopters. “Ek was bang, ek het nog nooit iets so vreesaanjaend beleef nie,” het Janet Jacob, een van die eerste passasiers wat gered is, aan die Noorweegse openbare uitsaaier NRK gesê.

Passasiers wat van die Viking Sky-skip gered is, word gehelp deur nooddienste in Hustadvika, Noorweë. (Foto: Odd Roar Lange/NTB Scanpix via AP)

Sy het gesê die helikoptervlug na die kus was te midde van sterk winde “soos ʼn tornado” en sy het net gebid vir almal se veiligheid wat nog aan boord die skip was.

Ook John Curry, ʼn Amerikaanse passasier, het aan NRK gesê hy het besef daar is fout toe hy middagete geëet en die skip skielik begin ruk het. “Dit was net chaos. Die helikoptervlug van die skip na die kus wil ek nie eers aan dink nie. Dit was nie lekker nie,” het Curry gesê.

Video’s en foto’s wat deur passasiers op die skip geneem is, toon hoe die skip op en af in die onstuimige see beweeg met stoele en ander meubelstukke wat heen en weer rol. Passasiers het almal oranje lewensreddersbaadjies aangehad, maar die golwe het van die skip se vensters gebreek en veroorsaak dat water aan boord kom.

Verskeie owerhede en organisasies was by die reddingsoperasie betrokke. Die plesierskip is intussen geanker en daar word beplan dat kleiner bote dit na kalmer water sal sleep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Ek was ook op ‘n skip in ‘n seestorm in die Mosambiek kanaal tussen Madagaskar en Afrika, maar nie naastenby soos hier beskryf word nie. Die see gooi (in die geval waarvan ek vertel) sowat 65 ton soos ‘n prop rond. Ons was in ‘n kajuit op die 11de vloer en branders slaan teen die vensters.

Roos ·

Is die 65 ton reg onthou, Cherokee? Nie dalk 65 K ton nie?
Ek glo dit moet skrikwekkend wees.

Basie ·

Janee, na n paar dae op so n skip met die lekker geeet daarop weeg ek alleen amper 65 ton. Die skip se gewig moet eerder 65 000 ton wees.

Anoniem ·

Dankbaar saam met Julle en dat Julle OUERS nou veilig is ! Ja-nee, Moeder Natuur speel nie ! ???

Magaretha van heerden ·

As jy op n cruise wil gaan moet jy onthou die tyd van die jaar is die weer in die Noorde eintlik baie sleg en stormagtig. Nogtans sou dit nie n probleem gewees het as die enjins nie probleme gegee het nie. Meeste skepe het stabilizers om die erge skommeling te verhoed. Dankbaar niemand het ernstige beserings sover ons weet nie.

De Wet ·

Twee natuur elemente/kragte waarvoor ek die grootste respek het – die see en weerlig.
Baie sterkte daar..

GM ·

Ek sal nie op so ‘cruise’ wil gaan nie, al word ek betaal daarvoor. *Bangbroek*

Sterkte aan almal met die herstelproses.

Stebastiaan ·

Gelukkig was daar darem ‘n mooi einde. Dankie tog!!!

Wonder ·

Hoekom, soos in hierdie berig, word Graeme Smith se ek en my tussen [] gesit? Dink ek joernalis ons moet glo dis nie hy wat die aankondiging doen nie?

Roos ·

Wonder, sy boodskap was in ‘n kort styl geskryf, sonder ‘ek’ en ‘my’. MM het dit ingevoeg vir beter sinskonstruksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.