Groot kommer ná ‘staatsgreep’ in Soedan

‘n Groep vroue betoog teen die staatsgreep in Soedan. Minstens drie mense is reeds in die geweld dood. (Foto AFP)

Van die VSA tot Suid-Afrika en die Arabiese liga het met kommer gereageer ná ʼn klaarblyklike staatsgreep in Soedan waar gewapende magte Maandag die eerste minister aangehou het.

Die chaos volg op weke lange spanning tussen die weermag en burgerlikes wat ingevolge ʼn ongemaklike magsdelingsooreenkoms regeer nadat die voormalige leier, Omar al-Basjir, ontsetel is.

Die VSA is ʼn sleutelondersteuner van Soedan se oorgang en het gesê hy veroordeel die optrede van die weermag “ten sterkste”. Die land het summier hulp van $700 miljoen (sowat R10,2 miljard) aan Soedan opgeskort.

“Ons verwerp die ontbinding van die burgerlik geleide oorgangsregering en sy verwante instelling en doen ʼn beroep dat dit dadelik weer ingestel word,” het Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê.

Hy het sy kommer te kenne gegee oor berigte dat veiligheidsmagte boonop skerp ammunisie teen betogers gebruik het.

Ned Price, ʼn woordvoerder vir die departement, sê Amerikaanse amptenare kon boonop nog glad nie weer die eerste minister in die hande kry nie.

Suid-Afrika het ook gesê hy is “diep bekommerd oor die voortgesette staatsgreep en pogings om Soedan se politieke oorgang te ondermyn”. Die land eis die onmiddellike vrylating van amptenare.

“Ons verwerp en veroordeel enige poging tot ʼn ongrondwetlike verandering van regering,” het die departement van internasionale betrekkinge en samewerkende regering gesê.

Ook Duitsland, die Verenigde Nasies (VN), die Afrika-unie (AU), die Arabiese Liga, die Interregeringsowerheid oor Ontwikkeling (IGAD) en die Europese Unie (EU) het die gebeure verwerp.

Soldate staan wag buite ‘n weermaghospitaal en regeringskantore in Khartoum na ‘n staatsgreep Maandag daar uitgevoer is. (Foto: AFP)

Mense het deur die nag in Soedan betoog teen die staatsgreep en chaos het in die hoofstad Khartoem geheers nadat soldate op betogers losgebrand het. Drie mense is luidens berigte dood.

Soedan se topgeneraal het ʼn noodtoestand afgekondig en die regering ontbind – een van verskeie soortgelyke oornames in Afrika vanjaar.

Genl. Abdel Fattah al-Burhan se aankondiging volg nadat gewapende magte burgerlike leiers, wat die oorgang na ʼn burgerlike regering lei sedert Al-Basjir in April 2019 uit die kussings gelig is, in hegtenis geneem het.

“Om die revolusie weer op koers te kry, het ons besluit om ʼn noodtoestand landwyd af te kondig, die tradisionele soewereine raad en die kabinet te ontbind,” het Al-Burhan gesê.

Botsings het ná sy toespraak in Khartoem uitgebreek, met die departement van inligting wat sê soldate het skerp ammunisie gevuur op betogers wat die staatsgreep verwerp het.

Volens die onafhanklike Sentrale Komitee van Soedannese Dokters is minstens drie betogers dood en nagenoeg 80 gewond.

“Burgerlike bewind is die mense se keuse”, het betogers gedreunsing terwyl hulle Soedannese vlae gewaai en buitebande gebruik het om brandende versperrings te skep.

“Ons sal nie die bewind van die weermag aanvaar nie en ons is gereed om ons lewe te gee vir die demokratiese oorgang in Soedan,” het Haitham Mohamed, een van die betogers, gesê.

Die geweld buite die weermag se hoofkwartier het uitgebreek nadat soldate die eerste minister, Abdalla Hamdok, ministers in sy kabinet en burgerlike lede van die raad aangekeer het.

Die internet is landwyd afgeskakel en paaie na Khartoem is gesluit voor soldate die hoofkantoor van die openbare uitsaaier in die stad Omdurman bestorm het.

Die magsdelingsooreenkoms is in 2019 aangegaan, maar al hoe meer krake het die afgelope ruk begin wys.

Hamdok het vantevore tweespalt as die “ergste en gevaarlikste krisis” vir die oorgangsregering bestempel.

Al-Bashir, wat Soedan drie dekades lank met ʼn ystervuis regeer het, is in ʼn tronk in Khartoem nadat hy aan korrupsie skuldig bevind is. Hy word ook deur die Internasionale Strafhof gesoek vir aanklagte van volksmoord oor die burgeroorlog in Darfoer.

Die VN se hoë kommissaris vir menseregte, Michelle Bachelet, het intussen gewaarsku dat Soedan die gevaar loop om weer na onderdrukking terug te keer. “Dit sal rampspoedig wees as Soedan agteruitbeweeg nadat hy eindelik ʼn einde gebring het aan dekades van onderdrukkende diktatorskap,” het Bachelet gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swartskaap ·

Afrika modus operandi. Die ou met die grootste geweer is baas. Laat dit vir ons n les wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.