Grootste pienk knewel in eeue in Angola ontdek

Die Lulo Rose. (Foto: LUCAPA DIAMOND COMPANY LIMITED / AFP)

Mynwerkers in Angola het onlangs ʼn seldsame suiwer pienk diamant ontdek – glo die grootste wat in 300 jaar ontdek is.

Dié pienk diamant van 170 karaat – genaamd die Lulo Rose – is by die Lulo-myn in die diamantryke noordooste van Angola ontdek, het die Lucapa Diamond Company in ’n verklaring aan beleggers gesê.

Die Angolese regering, wat ook ʼn vennoot van die myn is, het dié “historiese” vonds van die Tipe IIa-diamant, een van die skaarsste en suiwerste vorms van natuurlike edelstene, verwelkom.

“Hierdie rekord en skouspelagtige pienk diamant wat by Lulo ontdek is, vergestalt steeds Angola as ʼn belangrike speler op die wêreldtoneel,” het Angola se minister van minerale bronne, Diamantino Azevedo, gesê.

Die Lulo Rose. (Foto: LUCAPA DIAMOND COMPANY LIMITED / AFP)

Die diamant sal nou op internasionale tender verkoop word, waarskynlik teen ʼn skitterende prys.

Hoewel die Lulo Rose gesny en gepoleer sou moes word om die ware waarde daarvan te bepaal, is soortgelyke pienk diamante voorheen teen rekordpryse verkoop.

Die 59,6 karaat Pink Star is in 2017 op ʼn veiling in Hongkong vir 71,2 miljoen Amerikaanse dollar verkoop. Dit bly die duurste diamant wat nóg verkoop is.

Sou die Lulo Rose in die toekoms gesny en gepoleer word, kan die steen 50% van sy gewig verloor.

Die Pink Star.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Wonder hoeveel Angola ministers gaan nou in die geluk deel?

annie ·

Mens noem darem nie ‘n groot pienk diamant ‘n knewel nie, mense! Daar is mos meer opwindende woorde in die woordeboek vir iets wat vir ‘n spesiale vrou beskore is, maar mens ook nooit meer deesdae seker nie… Dalk is ek tog verkeerd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.