Haai-aanval eis twee in Rooisee

Argieffoto van ‘n rooi vlag wat dien as ‘n haaiwaarskuwing by die Rooisee. (Foto: AFP)

Twee vroue is dood nadat hulle deur ’n haai in die Rooisee in Egipte aangeval is. Een van die vroue is van Oostenryk.

Die Egiptiese ministerie het Sondag gesê die vroue het in die Sahl Hasheesh-gebied suid van Hurghada geswem toe hulle deur die haai aangeval is.

Die Oostenrykse nuusagentskap APA het gesê een van die vroue (68) is van die Tirol-streek in Oostenryk. Sy het ten tyde van die aanval in Egipte vakansie gehou.

Oostenryk se ministerie van buitelandse sake het “die dood van ’n Oostenrykse burger in Egipte” aan AFP bevestig sonder om verdere besonderhede te verskaf.

Die identiteit van die tweede slagoffer is nog onbekend.

Amr Hanafi, goewerneur van die Rooisee, het Vrydag opdrag gegee dat alle strande in die gebied vir drie dae gesluit word nadat “’n Oostenrykse toeris se linkerarm skynbaar in ’n haai-aanval afgeskeur is”.

’n Video – glo van die voorval –  word op sosiale media versprei. Daar kan in die video gesien word hoe ’n vrou in ’n plas bloed in die water spartel.

Die Egiptiese omgewingsministerie sê ’n taakspan is ná die voorval aangesê om “die wetenskaplike oorsake en omstandighede rakende die aanval” te ondersoek en “die redes agter die haai se gedrag wat tot die voorval gelei het” te bepaal.

Die Rooisee is ’n gewilde toeristebestemming. Haaie is ’n algemene verskynsel in die Rooisee hoewel die diere selde mense aanval wat binne die afgebakende gebied swem.

’n Tsjeggiese toeris is in 2018 tydens ’n haai-aanval langs ’n strand by die Rooisee dood. ’n Soortgelyke aanval het in 2015 die lewe van ’n Duitse toeris geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.