Handvol walvisse oorleef stranding in Australië

Meer as 200 walvisse het gevrek. (Foto: Glenn Nicholls/AFP)

Australiese reddingswerkers het Vrydag gespook om die handvol walvisse wat die massastranding vroeër die week oorleef het, weer in die see te kry.

Nagenoeg 230 loodswalvisse het Woensdag aan die Weskus van Tasmanië uitgespoel, maar ná verskeie reddingspogings het net minder as tien die stranding oorleef.

Brendon Clark van Tasmania Parks and Wildlife Service sê teen Donderdag is sowat 30 van die walvisse weer in die see vrygelaat, waarna sommige weer uitgespoel het.

Reddingswerkers het Vrydag onverpoosd gewerk om hierdie walvisse weer in die see te kry. Talle van hulle het egter gevrek voordat dit gedoen kon word.

Volgens Clark is daar boonop nog drie loodswalvisse waarby reddingspanne nie kan uitkom nie weens hul afgeleë ligging aan die kus.

“Die prioriteit is steeds om die oorblywende walvisse se toestand te bepaal en die ander te red wat weer uitspoel,” het hy gesê.

Daar lê egter dae lank al walviskarkasse op die strand, en Clark sê nou is daar die groot taak om hiervan ontslae te raak.

Wildbewaarders het reeds ʼn vurkhyser gebruik om die karkasse al met die strand langs te sleep en langs mekaar te sit sodat hul sterte na die see wys. Dit sal spanne later in staat stel om die walvisse in massas die see in te sleep.

Clark sê indien die weer saamspeel sal Sondag die beste geleentheid wees om van die karkasse ontslae te raak. Indien die karkasse in vlak water of op die strand gelaat word, kan dit haaie lok of selfs siektes versprei.

“Dit is uiters hartseer om hierdie pragtige diere op land te sien waar hulle nie behoort te wees nie,” het Depha Miedecke, hoofbestuurder van strategie by Petuna, gesê. Werkers van Petuna het gehelp om van die oorlewende walvisse in die see vry te laat.

“Ons sal hierdie diere tot die einde toe bystaan – selfs wanneer daar van hul karkasse ontslae geraak moet word.”

Teorieë oor stranding opgeweeg

Enkele walvisse het oorleef. (Foto: Glenn Nicholls/AFP)

Die oorsaak van massastrandings word steeds nie ten volle verstaan ​​nie, maar wetenskaplikes weeg nou talle teorieë op oor dié vreemde voorval.

Sommige meen dat die walvisse die pad byster geraak het toe hulle te naby aan die kus gevreet het.

Die walvisse sal selfs lede van hul skool in ʼn gevaarsone in volg en dit is moontlik dat ʼn sieklike walvis uitgespoel het en die res van die skool hom gevolg het namate hy noodseine uitgestuur het.

Ander glo weer skuins strande soos dié in Tasmanië kan die walvisse se sonar verwar en hulle laat dink hulle is in oop waters.

Hierdie soort stranding is egter nie ongewoon nie. Die jongste stranding kom net dae nadat ʼn dosyn jong walvisse in ʼn massastranding op King Island tussen Tasmanië en die Australiese vasteland gevrek het.

ʼn Massastranding het ook sowat twee jaar gelede in dieselfde gebied plaasgevind met byna 500 walvisse wat gestrand het. Net meer as 100 het dit oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.