Henry Kissinger (100) oorlede

Henry Kissinger (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Henry Kissinger, voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, is Woensdag in die ouderdom van 100 dood.

“Dr. Kissinger, ’n gerespekteerde Amerikaanse geleerde en staatsman, is by sy huis in Connecticut dood,” het sy konsultasiefirma Kissinger Associates in ’n verklaring aangekondig.

Kissinger se familie sal ’n private begrafnis hou, met ’n gedenkdiens wat later in New York sal plaasvind. Die oorsaak van sy dood is nie bevestig nie.

Kissinger was nog na sy 100ste verjaarsdag aktief en het in Julie na China gereis om president Xi Jinping te ontmoet. China is een van Kissinger se blywendste nalatenskappe. Hy het tydens die Koue Oorlog in die geheim na Beijing uitgereik, wat in 1972 op ’n geskiedkundige besoek deur president Richard Nixon uitgeloop het.

Na Nixon se bedanking tydens die Watergate-skandaal, het Kissinger onder Nixon se opvolger, Gerald Ford, as minister van buitelandse sake sowel as nasionale veiligheidsadviseur gedien.

Kissinger het die Nobelprys vir Vrede ontvang vir onderhandelinge om die Viëtnam-oorlog te beëindig, al het die konflik nie onmiddellik geëindig nie, terwyl sy Noord-Viëtnamese eweknie, Le Duc Tho, geweier het om die prys te aanvaar omdat daar nog nie vrede in Viëtnam was nie.

“Amerika het een van die mees betroubare en kenmerkende stemme oor buitelandse sake verloor met die afsterwe van Kissinger,” het oudpresident George W Bush in ’n verklaring gesê.

Kissinger het ná die Yom Kippur-oorlog in 1973 lof oor die Amerikaanse politieke spektrum ontvang vir sy onderhandelinge tussen Israel en Arabiese state wat pendeldiplomasie definieer het.

Hy het daarin geslaag om Arabiese magte van hul Sowjet-beskermheer te skei, wat die rol van die Verenigde State as die primêre bemiddelaar en sekuriteitswaarborg in die streek verseker het.

Kissinger word oorleef deur sy vrou van byna 50 jaar Nancy (89), twee kinders uit ’n vorige huwelik en vyf kleinkinders, het sy konsultasiefirma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.