Hoë uit amp verwyder ná jagluiperds in Indië vrek

Een van die ingevoerde jagluiperds in die Kuno- nasionale park (Foto: Verskaf)

ʼn Senior beampte is in Indië uit sy pos verwyder ná ʼn projek, om jagluiperds van Afrika te hervestig, tot agt se vrektes gelei het. Dit het vrae laat ontstaan oor die hoëprofielprojek.

Asiatiese jagluiperds het teen 1952 in Indië uitgesterf, maar hul Afrika-genote is verlede jaar weer ingevoer as deel van ʼn plan onder leiding van eerste minister Narendra Modi.

Agt jagluiperds is van Namibië ingevoer, gevolg deur nog 12 van Suid-Afrika in Februarie. Modi het toesig gehou oor die vrylating van die eerste jagluiperds by die Kuno- nasionale park in Madhya Pradesh.

Maroela Media het vroeër berig agt van die jagluiperds het die afgelope vier maande gevrek. Owerhede het dit aan natuurlike oorsake toegeskryf.

Die top- natuurlewebeampte in Madhya Pradesh, Jasbir Singh Chauhan, is egter Maandag uit sy pos oorgeplaas deur die departement van bosbou. Geen redes is verskaf waarom hy uit sy amp verwyder is nie.

Indiese media het Chauhan se verwydering met die vrektes van die jagluiperds verbind en bronne aangehaal wat glo gesê het daar is kommer oor die bestuur van die projek.

Die Indiese departement van omgewingsake het Sondag gesê dit is te vroeg om te sê of die program ʼn sukses of ʼn mislukking is, aangesien dit ʼn langtermynprojek is. Die departement het bygevoeg wêreldwye ervaring, veral kennis uit Suid-Afrika, het gewys dat die aanvanklike fases om diere te hervestig ʼn hoër as 50%-sterflikheidskoers het.

Natuurbewaarder Praveen Bhargav het egter Dinsdag aan AFP gesê die jagluiperd-hervestigingsprogram het ʼn groot kans op mislukking gehad, aangesien talle fundamentele kwessies geïgnoreer is. “Ek glo die eerste minister is ongelukkig mislei deur sommige burokrate en kenners,” het hy gesê. “Ons het nie die wye grasvlakte-habitatte wat die jagluiperds benodig of die ekologiese toestande om só ingewikkelde hervestiging aan te pak nie.”

Arjun Gopalaswamy, ʼn natuur- en statistiese ekoloog wat groot karnivore bestudeer, het gesê daar moet meer deursigtigheid wees oor die oorsake van die vrektes.

Beamptes het gesê sommige van die diere is moontlik vrek weens infeksies wat deur hul halsbande veroorsaak is.

Maroela Media het vroeër berig uiterste nat weerstoestande [in Indië] het daartoe gelei dat die halsbande infeksie by die jagluiperds veroorsaak het. Oppervlakkige wonde is aan die jagluiperds se nekke gewaar, maar dit is nie deur ander diere veroorsaak nie. Dit is eerder deur ʼn infestasie van maaiers veroorsaak wat tot infeksie en sepsis gelei het.

Die projek se aanvang was “teleurstellend”, het Gopalaswamy aan AFP gesê. Sewe van die agt vrektes het in die kampe plaasgevind, “waar sulke voorvalle die minste verwag is”.

Daar is een moontlike uitsondering – ʼn wyfie wat tydens paring deur ʼn mannetjie doodgemaak is. ʼn Gebrek aan inligting van owerhede “verbloem egter die primêre oorsake van al die vrektes”, het Gopalaswamy bygevoeg. “Uit ʼn wetenskaplike perspektief is hierdie dubbelsinnigheid kommerwekkend, want dit verhoed dat ons uit die voorvalle kan leer.”

Wetenskaplikes van die jagluipernavorsingsprojek by Leibniz-IZW in Namibië het vroeër gesê die hervestigingsprogram ignoreer “ruimtelike ekologie”, aangesien die Kuno- nasionale park baie kleiner is as die ruimtes wat die groot katte gewoonlik nodig het om te oorleef.

Die hervestiging is die eerste interkontinentale hervestiging van jagluipderds en die program het ten doel om sowat 100 van die diere oor die volgende dekade in te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hasie ·

Dit is uiters swak dat daar níe behoorlik navorsing gedoen is nie …daardie diere is versaak .Mense moet wakker skrik en ophou om net te dink aan geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.