Hof beëindig Britney Spears-voogdyskap

Ondersteuners van die #FreeBritney-beweging buite die Stanley Mosk-hof in Los Angeles, Kalifornië (12 November 2021) (Foto: Patrick T Fallon/AFP)

ʼn Regter in Los Angeles het Vrydag formeel die proses goedgekeur om die omstrede voogdyskap te beëindig wat die popster Britney Spears se lewe al vir die afgelope 13 jaar beheer.

“Die voogdyskap van die persoon en eiendom van Britney Spears word hierdeur beëindig. Dit is die bevel van die hof,” het regter Brenda Penny gesê.

Die Amerikaanse sangeres se pa het deur voogdyskap beheer oor haar lewe gehad, maar Spears het hom van jare se misbruik beskuldig. Jamie Spears is in 2008 as sy dogter se voog aangestel te midde van kommer oor haar geestesgesondheid. ʼn Regter het in September dié rol oorgegee aan ʼn voog wat deur Spears se eie regspan aangewys is. Dié omstrede voogdyskap is nou beëindig.

Spears se aanhangers, wat haar deurlopend met die #FreeBritney-veldtog ondersteun het, het buite die hof gejuig toe die uitspraak gelewer is.

“Beste dag ooit. Prys die Here, kan ek ʼn ‘amen’ kry,” het Spears op Instagram geskryf met die hutsmerk #FreedBritney.

Spears het vroeër gesê haar pa “was nooit geskik” vir die rol nie. Sy het sy beweerde alkoholisme en “trauma wat hy sedert haar kinderjare veroorsaak het” aangevoer as redes vir die aansoek om van die voogdyskap ontslae te raak.

Spears het in September aangedui sy wil die voogdyskap so vinnig as moontlik laat beëindig sodat sy met ʼn voorhuwelikse kontrak met haar verloofde Sam Asghari kan trou.

Spears het twee kinders by haar voormalige man, die kletsrymer Kevin Federline. Sy het vroeër in die hof aangevoer haar pa het haar verhoed om ʼn geboortebeperkingsmiddel te laat verwyder, ondanks die feit dat sy graag nog kinders wil hê. Jamie Spears het dié bewering ontken.

Spears se fortuin beloop na raming $60 miljoen, aldus Amerikaanse media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter9 ·

Begin van die einde; hou van haar maar daar is persoonlikheids-probleme waaraan sy sal moet werk anders gaan dinge nie goed uitwerk nie.

Frank John ·

Hoop sy is volwasse genoeg en het bietjie wysheid iewers langs die pad opgetel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.