Hof gee België 30 dae om inperkingswette ‘reg te stel’

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

ʼn Hof in België het Woensdag die regering opdrag gegee om binne 30 dae pandemie-wetgewing op te stel of die risiko te staan dat van sy anti-Covid-19-beperkings ongeldig verklaar word.

Die hof in Brussel het die uitspraak gelewer ná ʼn klag deur die Belgiese Liga van Menseregte. Die Belgiese regering mag appèl aanteken.

Die dispuut is soortgelyk aan die stryd in Nederland en Duitsland waar woede teen Covid-19-beperkings ook in die hof beland het.

“Die doel van ons optrede is om die parlementêre debat weer in die kollig te plaas,” het Audrey Lackner, prokureur vir die Liga, aan AFP gesê. “Die hof het die onwettigheid van die maatreëls bevestig en die Belgiese staat versoek om te doen wat nodig is om dit wettig te maak.”

Alle afsonderings en beperkings in België om die verspreiding van die koronavirus te beperk, is deur ministeriële verordenings gemaak en die parlement is dus omseil.

Die regering is ook deur die Europese Kommissie veroordeel omdat hy grensbeheer toegepas het wat vrye beweging tussen België en ander mede-EU-ledestate verhoed.

Die stand van sake het burgerlike vryheidsvegters warm onder die kraag en ministers het begin om behoorlike wetgewing saam te stel vir toekomstige pandemies sodat wetmakers nader betrek kan word in die proses. Dit sal egter na verwagting meer as 30 dae lank duur soos wat die hof vereis het. Die plaas eerste minister Alexander De Croo dus in ʼn moeilike situasie. De Croo se kantoor het aan AFP gesê die uitspraak word ondersoek.

Lackner het gesê buiten nuwe wetgewing kan die regering ook maatreëls skrap of ʼn nuwe ministeriële verordening opstel wat meer wettig is.

België beleef tans ʼn derde golf van die pandemie. Skole en grense is gesluit en jy moet ʼn afspraak maak om nie-noodsaaklike winkels te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Sover agter is S.A. hier sukkel hof meer as n jaar en ons wag nogsteeds.

Therese ·

Die wêreld moet hom regmaak vir besliste toekomstige ‘pandemies’, veral as dit die WHO langer as ‘n jaar neem om die plek van oorsprong, moontlike oorsake en gebrek aan deursigtige, daadwerklike waarskuwings te ondersoek.
As ‘n land nie sy internasionale grense onmiddellik mag sluit, om sodoende sy burgers voldoende te kan beskerm óf weerbares toelaat om so normaal moontlik aan te gaan met hul lewens nie, lê erge ekonomiese swaarkry voor.
EU-lande is op hierdie wyse uitgelewer aan die praktyke van die swakste skakel in die ketting, of hoe?
Gesonde verstand bestaan net eenvoudig nie meer nie.

Tiptol ·

In SA beteken ‘n hofuitslag net mooi niks. Na elke appèl is daar ‘n ander uitslag en geld word gemors.

Neestemmer ·

Hier in SA gee die ANC benderegering nie eers om oor die hofbeslissing wat Liberty fighters laasjaar gekry het nie. Dis tyd dat ons ons vryhede terugneem van hierdie skurke wat ons lewens verwoes met hulle plandemie. Nogal vermetel dat hulle die 3e golfie van die virus ry terwyl hulle ons vertel die oplossing is “vaccines”……mmmm as dit gewerk het sou daar mos nou nie nog “waves” gewees het nie of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.