Hollywood: Demi Lovato in die sop; tronkstraf stuit dié aktrise nie

Demi Lovato. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Demi Lovato in die moeilikheid

ʼn Aanstootlike plakkaat van die 30-jarige sangeres, Demi Lovato, is deur die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (ASA) in die Verenigde Koninkryk verbied.

In dié plakkaat word Lovato uitgebeeld waar sy in ʼn kontroversiële uitrusting op ʼn kruisvormige bed poseer. Die sangeres was “in ʼn posisie met haar bene na een kant toe vasgebind wat herinner aan die kruisiging”, het ʼn verklaring van ASA gelui.

Die plakkaat is in Augustus 2022 op ses plekke in Londen opgerig; ná vier dae is dit egter weer verwyder weens klagtes dat kinders dit kon sien.

Die plakkaat is as dekblad van haar nuwe album wat in 2022 uitgereik is, gebruik. Die naam van die album, wat op ʼn kragwoord sinspeel, gepaard met die suggestiewe dekblad, het die klagtes laat inrol. ASA het bevind dat die plakkaat seksualiteit met die heilige geloofsimbool verbind en dat dit aanstootlik vir Christene kan wees.

Tronkstraf stuit dié aktrise nie

Selfs 11 dae in die tronk en ʼn kontroversiële betrokkenheid by die Varsity Blues-kollege-toelatingskandaal stuit Felicity Huffman nie om na televisie terug te keer nie.

Felicity Huffman. (Foto: Leon Bennett/Getty Images North America/AFP)

Dié aktrise gaan binnekort in die reeks The Good Lawyer, ʼn reeks wat geskep is vanuit die sukses van Freddie Highmore se The Good Doctor, te siene wees.

Dit sal die eerste keer sedert die skandaal wees dat die aktrise die leisels van haar loopbaan weer optel.

Ashley Olsen getroud

Die 36-jarige Ashley Olsen is stil-stil met die 33-jarige kunstenaar, Louis Eisner, tydens ʼn private seremonie in Desember 2022 getroud.

Ashley Olsen en Louis Eisner. (Foto: Matt Winkelmeyer/Getty Images North America/AFP)

People berig dat dit ʼn geleentheid was wat slegs deur familie en vriende bygewoon is.

Die paartjie is al sedert 2017 saam en het in 2019 verloof geraak.

Die Olsen-tweeling, Mary-Kate en Ashley, is bekend daarvoor dat hulle hul romantiese lewe so privaat moontlik probeer hou. Ashley het self nog nie enigiets gesê oor haar verhouding met Eisner, die seun van die juweelontwerper Lisa Eisner, nie.

Dié reekse kry nuwe seisoene

Opwindende kykstof wag op kykers in 2023. Dié reekse kry amptelik nuwe seisoene:

  • Wednesday (Netflix)
  • Emily in Paris (Netflix)
  • House of the Dragon (HBO op Showmax)
  • Only murders in the building (Disney+)
  • The White Lotus (HBO op Showmax)
  • Abbott Elementary (Disney+)
  • Bridgerton (Netflix)
  • The Crown (Netflix)

Bykomende bronne: BBC News, E News, People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.