Hollywood: Ikoniese ‘Titanic’-deur vir miljoene opgeveil; babanuus vir dié sterre

James Cameron saam met Leonardo DiCaprio en Kate Winslet op die deur. (Foto: Titanic/Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Ikoniese ‘Titanic’-deur vir miljoene opgeveil

Die bekende deur wat aan die einde van die 1997-fliek Titanic ʼn reuserol in Jack en Rose se laaste oomblikke saam gespeel het, is pas vir miljoene op veiling verkoop.

Dié deur is vroeër vandeesweek by Heritage Auctions se Skatte van Hollywood-veiling vir $718 750 (sowat R13 miljoen) verkoop. Dié item het die meeste dollars laat inrol by die geleentheid wat in Dallas, Texas, plaasgevind het.

Dit was nie die enigste Titanic-rekwisiet wat op veiling was nie. ʼn Prototipe van die einste deur is vir $125 000 (sowat R2,3 miljoen) verkoop, terwyl die skip se stuurwiel vir $200 000 (sowat R3,7 miljoen) en Rose se ligte sjiffonrok wat sy tydens die ramp gedra het vir $118 700 (sowat R2,2 miljoen) opgeveil is.

Ander items wat ook by die veiling te koop aangebied is, sluit in Harrison Ford se sweep wat in Indiana Jones and the Temple of Doom gebruik is, die kegelbal wat Bill Murray in Kingpin gebruik het en die swart pak wat Tobey Maguire in Spiderman 3 gedra het.

Babanuus vir dié sterre

Twee sterre het dié week bekendgemaak dat hul gesinne aan’t groei is.

Die Twilight-akteur Robert Pattinson en sy verloofde, Suki Waterhouse, het pas hul eersteling verwelkom. Dié paartjie het in 2023 stilweg verloof geraak en op soortgelyke wyse ouers geword.

Die nuus oor die geboorte van hul eerste pienkvoet is eers bevestig toe hulle vroeër vandeesweek met ʼn pienk stootwaentjie in Los Angeles gekiek is. Dit is nie bekend wanneer presies hul pienkvoet gebore is nie.

Disney-ster Ashley Tisdale het ook vroeër vandeesweek bekendgemaak dat sy en haar man, Christopher French, binnekort ʼn tweede pienkvoet ryker word.

“Ons kan nie wag om jou te ontmoet nie,” het die High School Musical-aktrise op Instagram geskryf. In die foto wat sy gedeel het, kan mens duidelik haar groeiende bababoep sien. Talle van Ashley se High School Musical-medesterre, onder wie Cordin Bleu en KayCee Stroh, het die paartjie gelukgewens.

Die egpaar is in 2014 getroud en het in Maart 2021 hul eersteling, Jupiter Iris French, verwelkom.

Nuwe ‘Pirates of the Caribbean’-fliek op pad

Die geliefde Disney-franchise Pirates of the Caribbean se stories is nog lank nie klaar vertel nie.

Daar is ʼn splinternuwe rolprent in dié fliekreeks op pad, hoewel die vervaardiger, Jerry Bruckheimer, reeds bevestig het dat die volgende insetsel met ʼn hele nuwe rolverdeling gaan spog.

Dié opvolg is reeds in 2020 aangekondig, hoewel nuus oor die volgende rolprent skaars was. Jerry het vroeër vanjaar aan Comicbook.com bevestig dat die fliek steeds voortgaan, maar nie ʼn opvolg in die tradisionele sin van die woord gaan wees nie.

“Ons gaan Pirates [of the Caribbean] laat herlewe. Sodoende is die fliek makliker om te maak en hoef ons nie vir sekere akteurs te wag nie,” het hy gesê.

Johnny Depp in “Pirates of the Caribbean: Dead Men Tell No Tales. (Foto: AFP)

Die franchise is in 2003 met The Curse of the Black Pearl, waarin Johnny Depp, Orlando Bloom en Keira Knightley gespeel het, afgeskop. Sedertdien is daar vier flieks uitgereik, insluitend Dead Man’s Chest in 2006, At World’s End in 2007, On Stranger Tides in 2011 en Dead Men Tell No Tales in 2017.

ʼn Sesde fliek is beplan, hoewel dit in die wiele gery is weens Johnny Depp en Amber Heard se opspraakwekkende verhoor in 2022. Daar was ook sprake van ʼn fliek met Margot Robbie aan die stuur, hoewel sy later bekendgemaak dat die projek gekanselleer is.

Daar is nie enige verdere inligting oor die volgende Pirates of the Caribbean-fliek bekend nie.

Opvolgrolprent vir dié tienerfliek beplan

Diegene wat sukkel om nee te sê vir ʼn tradisionele, soetsappige tienerfliek sal veral hul ore vir die volgende nuus wil spits.

Agtien jaar nadat die bekende fliek John Tucker Must Die die silwerskerm getref het, is ʼn opvolgrolprent uiteindelik op pad.

Jesse Metcalfe (45), Sophia Bush (41) en Arielle Kebbel (39) het tydens ʼn paneelgesprek by Epic Cons Chicago verklap dat daar reeds ʼn teks vir die opvolgrolprent is en dat hulle bereid sou wees om deel van die fliek te wees.

“Ek sal gek wees daaroor om deel daarvan te wees,” het Metcalfe gesê. “Blykbaar is die teks wonderlik.”

John Tucker Must Die was Jesse se eerste verskyning in ʼn fliek, en dit bly vandag steeds een van die flieks waarvoor hy die meeste herken word.

“Ek het nog altyd gedink ʼn goeie opvolg sou ʼn jonger rolverdeling behels. Dan speel ek John Tucker se oom. Dit kan snaaks wees!”

Bykomende bronne: ENews!, Hollywood Life, People

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.