Hollywood: Jennifer Lawrence maak dokkie in Afghanistan; die hakskoene waai by Cannes-rolprentfees

Miley Cyrus. (Foto: Miley Cyrus/Facebook)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Miley Cyrus neem blaaskans van toerlewe  

Die gewilde sangeres, Miley Cyrus, het ná twee dekades van plaaslike en internasionale toere besluit om ʼn blaaskans van dié deel van haar lewe en loopbaan te neem.

“Hierdie het niks uit te waai met waardering vir my aanhangers nie. Dit het alles te doen met die feit dat ek nie meer in aantrekkamers wil klaarmaak nie, wat die werklikheid van lewe op toer is,” het die 30-jarige sangeres haar besluit op sosiale media verdedig.

Sy meen ook dat sy nou nader as ooit aan haar aanhangers is, selfs al sien sy hulle nie elke dag van ʼn verhoog af nie.

Dié reaksie spruit uit kommentaar wat sy tydens ʼn onderhoud met British Vogue vroeër vandeesmaand gelewer het. In dié onderhoud het sy laat glip dat sy nie haarself in die nabye toekoms kan sien toer nie.

Dié stelling het egter talle aanhangers verward gelaat, aangesien hulle gedink het dat sy op toer sou gaan nadat haar jongste album, Endless Summer Vacation, die rakke getref het.

Miley het in 2014 die laaste keer in ʼn arena opgetree. Sy het haarself daarna afgevra of dit iets is wat sy in haar lewe sou wou aanhou doen.

“Dit gaan nie oor ‘kan’ nie, ‘kan’ gaan oor jou vermoëns,” het Miley verduidelik.

“Dit gaan oor ‘wil’. Wil ek my lewe vir ander mense se plesier of vervulling leef, en nie my eie nie?”

Skoene waai by Cannes-rolprentfees

Die tendens van ʼn kaalvoet-Cannes-rolprentfees is sedert 2015 aan’t groei, en het dié jaar voortgeleef op die rooitapyt van dié bekende fliekfees.

Kristen Stewart het haar skoene op die Cannes-rolprentfees se rooitapyt in 2018 uitgetrek. (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

ʼn Groep vroue is in 2015 tydens die Cannes-rolprentfees weggewys van ʼn vertoning van die fliek, Carol. Die rede hiervoor was hul plathakskoene, met gʼn hoë hak in sig nie. Dié beweerde voorval het toe reeds wenkbroue laat lig oor die fees se oudmodiese blik op kleredragreëls.

In daardie stadium het die hoof van die fees, Thierry Fremaux, benadruk dat hoë hakskoene nié deel van die kleredragkode van die geleentheid is nie. Tog was dit wyd bekend dat dit deel van ʼn ongesproke reël gevorm het.

Die jaar daarna het talle vroue, insluitend Julia Roberts, hul hakke tuis gelos en sommer kaalvoet oor die rooitapyt marsjeer.

In 2018 het Kristen Stewart van Twilight-faam die koppe laat draai toe sy met hemelhoë Christian Louboutin-hakke by die geleentheid opgedaag het, net om hulle weer op die rooitapyt uit te trek.

Jennifer Lawrence het met plakkies by vanjaar se rolprentfees opgedaag. (Foto: Valery Hache/AFP)

Dié tradisie is vanjaar voortgesit met Cate Blanchett en Jennifer Lawrence wat hul hakke vir plat skoene verruil het.

Geklee in ʼn Giorgio Armani-pak en ʼn pienk jas, het Cate kaalvoet oor ʼn Cannes-verhoog gestap. Sy het die toekenning vir die deurbraak-kunstenaar aan Zahra Amir Ebrahimi, van Iraniese en Franse afkoms, oorhandig.

“Ek gaan my hakke uittrek om die vroue van Iran te vereer,” het sy gesê.

“Hierdie is om na almal te kap wat in die pad van vroueregte staan.”

Jennifer Lawrence maak dokkie in Afghanistan

ʼn Paar plakkies by die Cannes-rolprentfees is nie die enigste rede waarom Jennifer Lawrence mense deesdae aan die gons het nie.

v.l.n.r. Justine Ciarrochi, Zahra, Jennifer Lawrence en Sahra Mani tydens ʼn vertoning van Jennifer se nuwe dokumentêre rolprent, “Bread and Roses”. (Foto: Loic Venance/AFP)

Dié aktrise het haar plek as vervaardiger van ʼn dokumentêre fliek, Bread and Water, oor drie Afghan-vroue ingeneem. Dié dokumentêr werp lig op die uitdagings en struikelblokke wat vroue in Afghanistan sedert die Taliban se oorname in 2021 ervaar.

“My hart het so vinnig geklop terwyl ek gekyk het hoe hierdie vroue die Taliban teenstaan,” het Jennifer aan BBC vertel.

“Jy sien nie hierdie kant van die storie – vroue wat terug baklei – in die nuus nie. Dit is ʼn belangrike deel van ons dokumentêr saam met die stories van dié vroue.”

Vroue in Afghanistan het tans nie enige mag nie, verduidelik sy verder, daarom is dit belangrik vir rolprentmakers om al hierdie oomblikke vas te vang.

Bekende Youtube- en TikTok-ster met kanker gediagnoseer

Die bekende Youtube- en TikTok-ster, Hank Green, het vandeesmaand bekendgemaak dat hy met Hodgkin se limfoom gediagnoseer is.

Hank Green, regs, en sy boetie, John. (Foto: Hank Green/Facebook)

Hank het jare gelede Youtube-video’s begin maak, saam met sy boetie, John Green, die skrywer van boeke soos The Fault in Our Stars en Looking for Alaska. Op daardie tydstip het hulle as die VlogBrothers bekendgestaan. Dié twee het intussen die jaarlikse reuse-video-konferensie, VidCon, gestig en miljoene volgelinge oor verskeie sosiale media-platforms ingepalm.

Hank het veral in 2020 bekendheid onder jonger TikTok-gebruikers verwerf met informatiewe video’s en grapperige wetenskaplike antwoorde op ingewikkelde vrae.

“Dit is een van die mees behandelbare kankers,” het Hank met sy 7,5 miljoen TikTok-volgelinge gedeel. Hy het ook onlangs met chemoterapie begin.

“Aan ons medestigter, wetenskapman en die enigste persoon op die internet wat blyk om te weet waarheen al die kerswas gaan: Ons stuur al ons liefde van die VidCon-gemeenskap,” het VidCon se boodskap aan Hank gelui.

Bronne: BBC News, Variety, Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.