Hollywood: Liz Hurley kap na koninklike bewerings; Kanye weer van rassisme beskuldig

Elizabeth Hurley. (Foto: Dimitrios Kambouris/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Elizabeth Hurley kap na koninklike bewerings

Die Britse model en aktrise Elizabeth Hurley het bewerings dat sy destyds prins Harry, die hertog van Sussex, se maagdelikheid geneem het, ten sterkste ontken.

Dit volg meer as ʼn jaar nadat prins Harry in sy opspraakwekkende boek Spare geskryf het dat hy sy maagdelikheid aan ʼn “ouer, Britse vrou” verloor het.

“Dit is belaglik!” het Hurley aan die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Andy Cohen gesê tydens ʼn episode van Watch What Happens Live!.

Prins Harry se boek, “Spare”. (Foto: Hans Lucas / AFP)

“Hy het gesê: ‘Sy was Engels. Sy was ouer as ek. Dit was in Gloucestershire.’ Toe neem die wêreld sommer aan dat dit ek was, dit was absurd en belaglik.”

Volgens die 58-jarige het sy “nog nooit” vir prins Harry ontmoet nie.

Kanye skree glo “slegs op swart mense”

ʼn Voormalige werknemer van Kanye West het die musikant van rassisme beskuldig en ook beweer dat West voor hom “homofobiese en antisemitiese uitbarstings” gemaak het.

West, wat sy naam wettig na Ye verander het, het volgens die voormalige werknemer, Trevor Phillips, aan skoolkinders gesê hy “word deur Joodse mense vervolg”.

Phillips voer verder aan dat hy onder erge diskriminasie en teistering van West gely het.

Kanye West in November 2019. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Hy het in sy klagtes gesê West “beledig nooit ʼn wit persoon nie”, maar by ontelbare geleenthede het hy gesien of persoonlik ervaar hoe West “waansinnig op swart mense skree”.

West het volgens Phillips ook al vir Hitler geprys en die Nazi-leier “groot” genoem tydens ʼn aandete by ʼn luukse restaurant in Los Angeles.

Phillips vra $35 000 in vergoeding om die “onreg wat hy gely het, reg te stel” en ʼn breër boodskap oor die kletsrymer se gedrag te stuur.

Die klerereuse GAP en Adidas het ná vorige antisemitiese uitlatings reeds hul paadjies met West geskei. X-baas Elon Musk het West ook in 2022 van dié sosialemediaplatform afgeskop nadat die kletsrymer ʼn foto geplaas het wat glo ʼn swastika uitbeeld wat met ʼn Dawidster verweef is.

‘Sabrina’-akteur sterf

Chance Perdomo, die akteur wat veral bekend is vir sy rol in Netflix se The Chilling Adventures of Sabrina, is op 31 Maart op die ouderdom van 27 dood in ʼn motorfietsongeluk.

ʼn Verklaring wat deur Perdomo se familie met Variety gedeel is, lui: “Sy passie vir die kunste en onversadigbare aptyt vir die lewe is gevoel deur almal wat hom geken het, en sy warmte sal voortduur in diegene wat hy die liefste gehad het.”

Perdomo se Sabrina-medeakteur, Kiernan Shipka, en Patrick Schwarzenegger, wat saam met hom in GenV te sien was, het boodskappe op sosiale media oor die oorlede akteur gedeel.

“Dit maak seer. Baie. Wat ʼn jong talentvolle akteur, en ʼn goeie vriend – heeltemal te gou weg. Dit was ʼn plesier om saam met hom in GenV te werk,” het Schwarzenegger op X (voorheen Twitter) geskryf.

“Sy menswees was ʼn vrygewige geskenk vir my en vir soveel mense. Dit is regtig moeilik om hierdie wêreld sonder hom daarin voor te stel. Ek het hom met my hele hart liefgehad. Ek sal altyd,” het Shipka met ʼn reeks foto’s op Instagram geskryf.

Meer besonderhede oor die aard van Perdomo se ongeluk is nog nie aan die media bekend gemaak nie.

Beyoncé se luisteraarsyfers nóg meer

Die Amerikaanse sanger Beyoncé se “Beyhive”, soos daar na haar aanhangers verwys word, groei nog steeds danksy haar jongste album, Cowboy Carter.

(Foto: Instagram/@beyoncé)

Benewens die feit dat sy geskiedenis gemaak het deur die eerste swart vrou te word om die topposisie op die Amerikaanse Billboard Hot Country Songs-trefferlys te beklee met haar treffer “Texas Hold ’Em”, het haar luisteraarsyfers met 85% op Spotify gegroei.

Volgens dié Sweedse stroomdiens is Beyoncé se musiekkatalogus, wat nou agt albums insluit, 395% meer keer as tevore gestroom sedert “Cowboy Carter” se vrystelling.

Die album het op die dag van sy bekendstelling boonop die Spotify-album geword wat tot dusver in 2024 die meeste kere in ʼn enkele dag gestroom is.

Maroela Media het vroeër berig die sanger, wat in Houston, Texas, in die VSA gebore is, se keuse om haar kenmerkende RnB-styl vir country te verruil, het aanhangers klaarblyklik verbaas, maar is egter volgens kenners die sanger se manier om terug te keer na haar country-wortels.

Bronne: Variety, E! News, Deadline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.