Hollywood: Netflix, Google wil personeel ‘verplig’ om in te ent; rocker ontken steeds seksklagte

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Netflix, Google wil personeel ‘verplig’ om in te ent

Netflix (Foto: Facebook)

Netflix gaan glo Covid-inentings verpligtend maak vir sleutelspelers en spanlede op Amerikaanse televisie- en rolprentstelle.

Volgens berigte sal die stromingsmaatskappy vereis dat “sone A ”-personeel – wat akteurs en spanlede in nabye kontak met hulle insluit – die inenting moet ontvang.

Ander firmas soos Google het ook gesê dat alle werkers ingeënt moet word voordat hulle na die kantoor kan terugkeer.

Dié beleid sal glo binnekort in werking tree op Google se Amerikaanse kampusse en sal dan wêreldwyd na sy 144 000 werknemers uitgerol word.

Netflix tref hierdie maatreëls nadat nuwe ooreenkomste onlangs tussen Hollywood-unies en ‑ateljees gesluit is. Dit laat maatskappye toe om verpligte inentingsbeleide vir sleutelpersoneel te implementeer.

Sean Penn, die bekroonde Hollywood-akteur, wil egter hê die beleid moet alle personeellede, en nie net sogenaamde sone A-personeellede nie, insluit.

Hy het onlangs gesê hy sal nie na die stel van die dramareeks Gaslit, wat deur NBC Universal vervaardig word, terugkeer nie tensy alle spelers en spanlede ingeënt is.

Netflix maak ook die skuif nadat die vroeër vandeesweek aangekondig het dat maskers weereens binnenshuis gedra sal moet word, selfs deur mense wat ten volle ingeënt is.

Dit volg ná ʼn styging in Covid-gevalle weens die verspreiding van die hoogs aansteeklike Delta-variant.

Sundar Pichai, uitvoerende hoof van Google, het in ʼn bloginskrywing gesê dat “enigiemand wat op ons kampusse wil kom werk, ingeënt sal moet wees”.

“Hoe die beleid geïmplementeer word, sal afhang van plaaslike regulasies en sal nie geld totdat inentings geredelik in jou omgewing beskikbaar is nie,” het hy gesê.

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

Google sal ook die heropening van sy wêreldwye kampusse van 1 September tot 18 Oktober uitstel weens ʼn styging in gevalle wat veroorsaak word deur die Delta-variant van die koronavirus.

Werknemers met uitsonderlike omstandighede kan tuis werk tot die einde van die jaar. Enige Google-werknemers kan egter aansoek doen om permanent van die huis af te werk en van kantore te verskuif.

Google verwag dat daar uiteindelik, in die bestek van enige gegewe week, sowat 60% van werknemers by die kantoor sal werk vir ʼn paar dae elke week, een-vyfde sal in nuwe kantore werk en nog ʼn vyfde sal tuis werk.

Talle firmas weeg die voor- en nadele daarvan op om hulle werknemers voortaan tuis te laat werk. Ander het ook gespesifiseer dat werknemers wat kantoor toe kom, ingeënt moet wees.

In Junie het die Harry Potter-uitgewer, Bloomsbury, ook gesê personeellede moet ingeënt wees voordat hulle na die werkplek kan terugkeer.

“Die basiese feit is dat hierdie virus steeds uiters gevaarlik is,” het die uitgewershuis gesê.

JP Morgan, die Amerikaanse beleggingsdienstemaatskappy, het in Junie gesê hulle beplan om personeellede opdrag te gee om hulle inentingstatus op ʼn interne webportaal aan te meld. Werknemers wat ten volle ingeënt is, sal toegelaat word om sonder gesigmaskers te werk.

Bankiers by Goldman Sachs moet ook aandui hoeveel inentings hulle ontvang het voordat hulle na die kantoor kan terugkeer.

Rocker ontken steeds seksklagte

Marilyn Manson verlede jaar op die Vanity Fair Oscar-partytjie in Beverly Hills. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Marilyn Manson sê Esmé Bianco se bewerings van seksuele aanranding teen hom is “onwaar, merieteloos” en “deel van ʼn gekoördineerde aanval” deur verskeie vroue.

Die Game of Thrones-aktrise, wat die rol van Ros in dié gewilde reeks vertolk het, het vroeër vanjaar die sanger gedagvaar en beskuldig hom van seksuele aanranding en mishandeling.

Bianco voer aan dat Manson herhaaldelik dwelms en dreigemente gebruik het om haar te dwing om sekere seksuele dade uit te voer.

Manson, wie se regte naam Brian Warner is, het nou dokumente ingedien om die saak van die hand te laat wys, en sê hy ontken “ieder en elke” aantyging.

Bianco is een van vier vroue wat die sanger dagvaar, saam met Manson se voormalige persoonlike assistent Ashley Walters, model Ashley Morgan Smithline, en ʼn vrou wat verkies om anoniem te bly.

Vele van die aantygings is van dieselfde aard, waaronder bewerings van seksuele en fisieke mishandeling.

Meer as ʼn dosyn vroue het openbare aantygings teen die musikant gemaak, ook Evan Rachel Wood, sy eksverloofde.

In hofdokumente wat in Los Angeles ingedien is, het Manson se prokureurs gesê daar “is nie ʼn greintjie bewyse” om die bewerings te staaf nie.

“Hierdie individue, onder wie die klaagster, het maande lank aan hulle stories beplan om dit wat instemmige vriendskappe en verhoudings met Warner was, veel langer as ʼn dekade gelede, te verdraai in verhale wat geen ooreenkoms met die werklikheid het nie.”

Die dokumente, wat die BBC onder oë gehad het, beweer ook dat Manson se beskuldigers “sinies en oneerlik is in ʼn poging om uit die #MeToo-beweging munt te slaan”.

Esme Bianco in 2014 in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Dee Cercone/Everett Collection/Facebook)

Bianco het in Februarie na vore gekom met haar aantygings, kort nadat Evan Rachel Wood in ʼn verklaring beweer het dat Manson haar “verskriklik” mishandel het, en dat sy “gebreinspoel en gemanipuleer is om onderdanig te wees”.

Bianco het die rockster in April gedagvaar en voer aan dat hy haar onder meer vasgebind, geslaan en elektriese skokke toegedien  het.

Sy het ook gesê hy het haar gedwing om seksuele omgang te hê wat dikwels gewelddadig en vernederend was, en dat sy soms bewusteloos of andersins nie in staat was om haar toestemming te gee nie.

Manson hou vol hy is onskuldig en beskryf die aantygings as “aaklige verdraaiings van die werklikheid”.

Manson se prokureurs voer aan dat Bianco se saak te laat ingedien is om in aanmerking geneem te word volgens Kaliforniese wetgewing.

Ná die beskuldigings teen Manson in Februarie aan die lig gekom het, het sy bestuurder en platemaatskappy hulle kontrakte met hom beëindig.

Manson het hom vroeg in Julie oorgegee aan die Los Angeles-polisie in verband met ʼn inhegtenisnemingsbevel aangaande die aanranding van ʼn videograaf by ʼn konsert. Hy is sedertdien op borgtog vrygelaat.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Filistyn ·

En so probeer hulle ons in ‘n blik druk – ontneem jou van eie keuse.

MakersMark ·

In SA sal dieselfde gebeur mbt CV19 inentings. Gebeur al in SA skole van die ’60’s af. As jy nie ingeënt is nie kan jy nie skool bywoon nie. Wat is so moeilik om te verstaan? Nou dat dit volwassenes is “moet daar ‘n keuse wees” toe dieselfde volwassenes kinders was het nie hul of hul ouers keuses gehad nie.

Jean ·

Maar ek neem aan die 60’s se inentings was darem meer as net +- 1 jaar op die mark

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.