Hollywood: Nog ʼn album vir Taylor Swift; skrywers staak al meer as 100 dae

Richard Gere het ook aan ʼn protesaksie deelgeneem. (Foto: Vanessa Carvalho/Brazil Photo Press/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Hollywood-staking steek 100-dag merk oor

Die voortslepende Hollywood-skrywerstaking het vroeër vandeesweek die 100 dag-merk oorgesteek.

Die skrywersgilde van die VSA het in Mei vanjaar vir die eerste keer protes begin aanteken oor onder meer kunsmatige intelligensie (KI) en kwynende vergoeding. Dié staking het talle reekse en rolprente tot stilstand geruk.

Nadat akteurs in Julie vanjaar ook begin staak het weens soortgelyke redes, is Hollywood byna heeltemal lamgelê. Die uitreikingsdatums van tientalle reekse, insluitend The Last of Us (seisoen 2), Euphoria (seisoen 3), Emily in Paris (seisoen 4), Stranger Things (seisoen 5) en The White Lotus (seisoen 3) is onbepaald uitgestel.

Kykers gaan ook onbepaald wag vir rolprente soos Dune Part Two, Deadpool 3, Beetlejuice 2, It Ends With Us, Spiderman 4, Gladiator 2 en die rolprentweergawe van Wicked.

Richard Gere, Jason Sudeikis, Susan Sarandon, Olivia Wilde, Joey King, Billie Crystal, Alison Brie, Dave Franco, Mandy Moore, Anna Kendrick, Holland Taylor, Colin Farell, Jessica Chastain, Sarah Paulson en Jack Black is maar van die akteurs wat aktief aan protesaksies deelneem.

Die Harry Potter-aktrise, Imelda Staunton, en haar man, Downton Abbey-akteur, Jim Carter, het hul ondersteuning vir die Screen Actors Guild (SAG-AFTRA)-staking by ʼn geleentheid in Londen gewys.

Daar is nog nie enige aanduiding dat die stakings binnekort ten einde gaan loop nie.

Taylor Swift kondig ‘1989 (Taylor’s Version)’ aan

Die popsangeres, Taylor Swift, het haar jongste album tydens ʼn onlangse vertoning in Los Angeles in die VSA bekendgestel.

Dit is getiteld, 1989 (Taylor’s Version), en sal op 27 Oktober vanjaar beskikbaar wees. Dit is haar eie interpretasie en weergawe van 1989, ʼn album wat reeds in 2014 vir die eerste keer uitgereik is. Dit is maar een van Taylor se talle liedjies en albums wat sy deur die jare heen heropgeneem en -uitgereik het.

Dié 33-jarige sangeres is tans besig met haar Eras-wêreldtoer en het in Julie vanjaar Speak Now (Taylor’s Version) uitgereik.

Sir Anthony Hopkins vertolk eersdaags Holocaust-held

Sir Anthony Hopkins sal eersdaags in die biografiese rolprent, One Life, wat oor ʼn heldedaad tydens die Holocaust handel, te siene wees.

Sir Anthony Hopkins is eersdaags in ʼn fliek oor die Holocaust te sien. (Foto: Momodu Mansaray/Getty Images)

Sir Nicholas Winton, ʼn Londense sakeman wat in 2015 in die ouderdom van 106 gesterf het, het tydens die Tweede Wêreldoorlog in 1938, 669 Joodse kinders uit die kloue van die Holocaust gered. Dié kinders was vasgevang in Tsjeggo-Slowakye, wat in daardie stadium onder Duitse beheer was.

Sir Nicholas het die reddingspogings van dié kinders hanteer en verseker dat elke kind by ʼn huis of plek van veiligheid geplaas word. Ten spyte van sy humanitêre werk, het dit by hom gespook dat hy nie meer kinders kon red nie. Hy het dus nooit oor sy werk gedurende die oorlog gepraat nie.

Sy vrou het egter 50 jaar ná die oorlog op ʼn plakboek in hul stoorkamer afgekom wat onder meer die name van die kinders wat hy gered het, bevat het. Sy lewensverhaal het vinnig begin versprei, en hy is in 1988 deur die BBC genooi om op hul geselsprogram, That’s Life!, te verskyn.

Die standbeeld van Sir Nicholas Winton in Praag. (Foto: Bernd von Jutrczenka/DPA/AFP)

Die kinders wie se lewens hy gered het, was daardie dag in die gehoor – iets waarvan hy nie vooraf bewus was nie. Dit het gelei tot ʼn hartroerende TV-oomblik wat in onlangse jare internasionale aandag op YouTube geniet het.

One Life is gebaseer op ʼn 2014-boek wat deur Sir Nicholas se dogter, Barbara, geskryf is. Die fliek is in Praag geskiet, waar ʼn standbeeld van dié held ook opgerig is.

Sir Anthony vertolk die ouer weergawe van Sir Nicholas, terwyl Johnny Flynn sy jonger weergawe sal wees. Helena Bonham Carter is ook in die fliek te siene.

Dit word in September vanjaar uitgereik.

Mikrofoon wat Cardi B gehoorlid mee gooi, verkoop vir welsyn

Kort nadat die kletsrymer, Cardi B, mense aan’t gons gehad het omdat sy ʼn gehoorlid met haar mikrofoon gegooi het, is dié mikrofoon vir ʼn allemintige $100 000 (sowat R1,8 miljoen) verkoop.

Cardi B. (Foto: Dai Kurokawa/AFP)

Dit is opgeveil deur Scott Fisher, die eienaar van die oudiotoerusting wat daardie dag gebruik is. Dié opbrengs gaan aan die Wounded Warrior-projek geskenk word.

Fisher het aan CBS gesê dat sy aanvanklike doelwit maar $5 000 was.

ʼn Video van die mikrofoon-voorval het sowat twee weke gelede die rondte op sosiale media begin doen. In die video kan daar gesien word hoe ʼn gehoorlid Cardi B met water bestook, waarna sy omswaai en die persoon met haar mikrofoon teruggooi.

Bykomende bronne: BBC News, Variety, US Weekly

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.