Hoop vervaag in soektog na vermiste duikboot

Lede van die Indonesiese reddingsagentskap en mariene polisie berei hulle voor om by die soektog na die KRI Nanggala 402 aan te sluit. (Foto: SONNY TUMBELAKA / AFP)

Die hoop vervaag om die bemanningslede aan boord van die vermiste Indonesiese duikboot betyds te bereik met vrese dat die suurstof in die duikboot reeds opgeraak het.

Die VSA en Australië het hulle intussen ook by die soektog in die waters aan die kus van Bali aangesluit. Oorlogskepe, vliegtuie en honderde militêre personeel is deel van die soektog na die KRI Nanggala 402 met ʼn bemanning van 53.

Die duikboot se suurstofreserwekapasiteit is 72 uur in die geval van ʼn algehele ineenstorting van sy stelsels wat beteken dat daar net genoeg suurstof tot vroeg Saterdagoggend sou wees, indien dit die geval is.

KRI Nanggala 402, een van vyf duikbote in Indonesië se vloot, het Woensdag tydens ʼn millitêre oefening verdwyn. Die ergste word egter gevrees nadat ʼn oliestorting opgemerk is in die omgewing waar daar met dié duikboot kontak verloor is.

Daar is kommer dat die duikboot te diep geduik het en nou op ʼn diepte van tot 700 m lê. Die KRI Nanggala 402 van 1 300 ton is in 1978 gebou en in 1981 deur die Indonesiese vloot in gebruik geneem. Die duikboot was geskeduleer om torpedo-oefeninge uit te voer toe hy Woensdagoggend vroeg toestemming gevra het om te duik waarna daar kontak verloor is.

Singapoer en Maleisië is ook by die soektog oor ʼn gebied van 34 vk. km betrokke.

Vlootrampe

Daar was oor die afgelope twee dekades verskeie vlootrampe. In November 2017 het ʼn Argentynse duikboot met 44 bemanningslede in die suidelike Atlantiese Oseaan verdwyn. Die wrak is net meer as ʼn jaar later eers gevind, 800 m onder die wateroppervlak.

Een van die ergste vlootrampe was in Augustus 2000 toe ʼn Russiese duikboot met 118 manskappe in die Barentsz-see gesink het nadat daar ʼn ontploffing aan boord was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.