Ikoniese Britse motorprogram tot halt geroep

Die verfilming van “Top Gear” is nou tot halt geroep. (Foto: The Stig/Facebook)

Die Britse motorprogram, Top Gear, sal ná 46 jaar op die kassie tot halt geroep word.

Dié besluit is geneem nadat een van die program se aanbieders, Andrew “Freddie” Flintoff, verlede jaar in ʼn ernstige ongeluk betrokke was terwyl die program verfilm is.

“Gegewe die buitengewone omstandighede, het die BBC besluit om die program vir die afsienbare toekoms te stop,” het die BBC in ʼn onlangse verklaring oor die besluit gesê.

“Die BBC bly verbind tot Freddie, Chris en Paddy wat sedert 2019 die hart van die program se herlewing is. Ons is opgewonde oor nuwe projekte wat met elkeen van hulle ontwikkel word, iets waaroor ons in die toekoms meer inligting sal hê.

“Ons weet dat hierdie nuus vir kykers teleurstellend is, maar dit is die regte ding om te doen.”

Die eerste episode van Top Gear is op 22 April 1977 op BBC uitgesaai. Dit is in daardie jare deur Angela Rippon en Tom Coyne aangebied, alhoewel niemand verwag het dat dit uiteindelik só ʼn gewilde program sou word soos wat dit het nie.

Die program het deur die jare heen telkemale van formaat verander, met talle aanbieders wat gekom en gegaan het. Dié aanbieders sluit onder meer Noel Edmonds, Tiff Needell, William Woollard en Matt LeBlanc in.

Jeremy Clarkson. (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Die bekendste aanbieders van die program was die humoristiese trio, Jeremy Clarkson, Richard Hammond en James May. Hulle is in 2015 in die pad gesteek ná ʼn insident by ʼn hotel waar Jeremy ʼn vervaardiger van die program, Oisin Tymon, in die gesig geslaan het.

Hy is aanvanklik geskors, met sy kontrak wat bloot nie hernu is nie. Sy mede-aanbieders is kort ná hom in dieselfde jaar by die program weg.

Jeremy, Richard en James was in die afgelope agt jaar in verskeie Amazon-projekte, saam en individueel te sien. Dié programme sluit onder meer in The Grand Tour, James May: Oh Cook, James May: Our Man in Japan, James May: Our Man in Italy, Clarkson’s Farm en Richard Hammond’s Big.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonkprop ·

Vandat Jeremy, Richard en James weg is, was Top Gear nooit weer dieselfde nie. Hulle is natuurlike aanbieders waar die res probeer snaaks wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.