Internasionale oorsig: CDU in Duitsland kies nuwe leier, maar …

Die CDU se sekretaris-generaal, Paul Ziemiak by die aanlynvergadering. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Die grootste politieke party in Duitsland, die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van bondskanselier Angela Merkel, kies Saterdag ʼn nuwe partyleier. Die party se konferensie is reeds twee keer die afgelope paar maande uitgestel en sal Saterdag as ʼn digitale konferensie plaasvind. Altesaam 1 001 afgevaardigdes sal die groot taak hê om ʼn nuwe leier vir die party te kies nadat Merkel reeds meer as twee jaar gelede besluit het om uit te tree. Die leierskapverkiesing in die CDU is van groot belang omdat die Duitse federale verkiesing vanjaar in Oktober plaasvind en Angela Merkel na meer as 15 jaar as bondskanselier uittree.

Merkel se aanvanklike opvolger, Annegret Kramp-Karrenbauer, het egter redelik vinnig besluit om weer as partyvoorsitter uit te tree en moes eintlik verlede jaar reeds vervang gewees het. Weens die pandemie is die konferensie waar haar opvolger aangewys moes word, egter uitgestel.

Drie kandidate het hulle vir die partyleierskap beskikbaar gestel. Hulle is Armin Laschet, die premier van Noordryn-Wesfale, Norbert Röttgen, voorsitter van die Duitse parlement se komitee vir buitelandse sake, en Friedrich Merz, ʼn  prokureur en voormalige parlementslid. Laschet en Röttgen is grootliks volgers van Merkel en sal waarskynlik nie veel van Merkel se benadering tot die politiek afwyk nie. Merz daarteenoor verteenwoordig die redelik onrustige, maar groot konserwatiewe vleuel van die party. Merz en Merkel het in die verlede al gebots en Merz het ʼn paar jaar gelede die aktiewe politiek verlaat nadat hy deur Merkel eenkant toe geskuif is. Hy het op verskeie beleidsposisies meer konserwatiewe standpunte.

Merz loop tans voor in peilings onder lede van die CDU, maar dit is moeilik om te bepaal of die 1 001 afgevaardigdes ook so sal stem. Merkel het steeds baie groot invloed by afgevaardigdes. In die 2018-leierskapverkiesing was dit Merz teen Kramp-Karrenbauer en hoewel Merz ook daar voorgeloop het, het Merkel aktief die laaste nodige stemme vir Kramp-Karrenbauer gewerf sodat sy naelskraap kon wen.

Die groter probleem is dat nie een van die drie kandidate noodwendig baie gewild onder die Duitse kiesers is nie. Tradisioneel word die leier van die CDU ook die party se kandidaat vir die posisie van kanselier. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het dit nog net twee keer gebeur dat die CDU se vennoot op federale vlak, die Christen-Sosiale Unie (CSU) van die deelstaat Beiere, die twee partye se gesamentlike kandidaat vir die kanselierskap aangewys het. In albei gevalle het die CDU/CSU nie daarin geslaag om die verkiesing te wen nie.

Die CDU/CSU loop tans gemaklik voor in alle peilings vir Oktober se verkiesing, hoewel ʼn koalisieregering waarskynlik nodig sal wees. Die huidige premier van Beiere, Markus Söder (54), is tans een van die gewildste politici in Duitsland, en volgens die jongste peiling van Der Spiegel glo 40% van Duitsers dat hy eerder die CDU/CSU se kandidaat moet wees. Die huidige federale minister van gesondheid, Jens Spahn (40), is ook baie gewild onder kiesers.

Söder en Spahn het albei ʼn goeie politieke profiel en is algemeen bekend in Duitsland. Albei van hulle is ook gewilder as die drie kandidate vir die leierskap van die CDU. Hulle is al twee ook meer konserwatief as Merkel, hoewel elk met verskillende invalshoeke.

Weens die Covid-19-pandemie word die vergadering aanlyn gehou. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Dit mag dus vanjaar gebeur dat die CDU/CSU-koalisie afwyk van sy algemene praktyk deur ʼn ander kandidaat vir bondskanselier te benoem. Söder is hier die logiese keuse. Hy is konserwatief en het ʼn sterk fokus op Christelike waardes, identiteit en die behoud van die goeie. Hy is ook sterk gefokus op fiskale dissipline, iets wat sterk aanhang by baie partylede van die CDU het. Verder is hy egter ook op omgewingsbewaring en die regulering van omgewingsake en bewaringsaspekte gefokus en sal hy waarskynlik ʼn koalisie met die Groenparty kan vorm, wat volgens peilings tans die tweede gewildste party in Duitsland is.

Spahn is gay, slegs 40 jaar oud en verteenwoordig die jonger generasie in die CDU. Hy is ʼn lid van die Katolieke Kerk en deel van die meer konserwatiewe blok in die CDU. Hy het hom in 2015 uitgespreek teen Merkel se verwelkomende benadering tot vlugtelinge en asielsoekers. Al drie kandidate wat Saterdag aan die CDU se leierskapstryd deelneem, sowel as Söder en Spahn, is Katolieke.

Die vraag is natuurlik of die nuutverkose leier van die CDU sal aanvaar om nie ook die kanselierkandidaat vir die CDU/CSU te wees nie. Intussen het nie Söder of Spahn al aangedui dat hulle moontlik as kandidaat vir die kanselierskap wil staan nie. Met Merkel wat steeds baie gewild in haar party en in die hele Duitsland is, kan verwag word dat sy waarskynlik steeds groot invloed op hierdie besluite sal kan uitoefen.

Merkel is die afgelope drie jaar deur ʼn gesaghebbende internasionale peilingsagentskap as die magtigste regeringshoof ter wêreld aangewys. Vir baie mense in Duitsland en Europa is dit selfs moeilik om ʼn era voor Merkel te onthou. Dit gaan dus ʼn groot en moeilike oorgang van Merkel na ʼn nuwe bondskanselier wees. So ʼn persoon sal hom eers in Duitsland moet bewys, maar sal ook moet verseker dat Duitsland sy leiersposisie in Europa en die hele wêreld bly behou. Terwyl Merkel baie steun in Duitsland het, is daar tog ʼn behoefte vir ʼn ander soort leier en die kanse is goed dat ʼn meer konserwatiewe kanselier na Oktober se verkiesing, afhangende van koalisie-onderhandelinge, aangewys sal word.

Italië se koalisieregering kan val

(Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Die besluit van Italië se voormalige eerste minister, Matteo Renzi, die afgelope week om sy party, Italia Viva, uit die huidige koalisieregering te onttrek, kan binnekort tot ʼn nuwe politieke krisis in Italië aanleiding gee. Italia Viva was tot Woensdag in ʼn koalisieregering saam met die Italiaanse Demokrate (sentrumlinks) en die Vyfsterbeweging (links-populisties). Sonder Renzi se party het die regering nie meer ʼn meerderheid in die Italiaanse parlement nie.

Italië se eerste minister, Giuseppe Conte, het skerp kritiek teen Renzi en sy party uitgespreek en het gesê dat dit totaal onverantwoordelik van Renzi is om politieke speletjies in ʼn tyd van nasionale krisis te speel. Italië is een van die lande ter wêreld wat die swaarste deur die Covid-19-pandemie getref word.

Indien Conte nie binne die volgende paar dae met die hulp van onafhanklike parlementslede en kleiner partye ʼn nuwe koalisie kan vorm nie, sal hy as eerste minister moet bedank. Dan sal die Italiaanse president ʼn mandaat aan ʼn tegnokraat soos Conte of aan ʼn ander politieke party se leier kan gee om te probeer om ʼn nuwe regering te vorm. Dit is ook moontlik dat die president ʼn regering van nasionale eenheid wat deur ʼn tegnokraat gelei word, kan saamstel. Dit het al in die verlede gebeur.

Vroeë verkiesings is ook ʼn moontlikheid. Die linkse partye in Italië wil dit egter verhoed omdat die regse partye tans baie sterk in peilings vertoon. Indien ʼn nuwe verkiesing in Italië moet plaasvind, sal ʼn regse koalisieregering waarskynlik die gevolg wees.

Nederlandse regering kom tot ‘n val

Die Nederlandse eerste minister Mark Rutte. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Twee maande voor Nederlandse kiesers na die stembus moet gaan om nuwe parlementslede te verkies, het die huidige koalisieregering laat Vrydag bedank. Dit volg nadat dit duidelik geraak het dat ʼn mosie van wantroue wat volgende week teen die regeringskoalisie ingedien sou word, kon slaag. Hoewel ‘n meerderheid van Nederlanders ten gunste daarvan is dat die huidige regering tot die verkiesing aanbly, het die regering aangedui dat dit die korrekte stap was om te bedank. Nederland se premier, Mark Rutte, is steeds baie gewild in sy land, maar heelwat van sy kabinetslede geniet nie meer die steun van ʼn meerderheid Nederlanders nie. Rutte en die meeste ministers sal egter tot die verkiesing aanbly.

Die rede vir die regering se bedanking is ʼn ondersoek wat die afgelope tyd gedoen is nadat duisende Nederlandse gesinne wat kindersorgvoordele ontvang, verkeerdelik deur die belastingdiens van bedrog aangekla is. Die sogenaamde “toeslagenaffair” word as een van die ernstigste regeringskandale in ‘n lang tyd in Nederland bestempel.

Rutte is reeds sedert 2010 die premier van Nederland en is gevolglik een van die langsdienendste premiers in die Nederlandse geskiedenis. Sy party, die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie (VVD), is ook tans gemaklik in die eerste plek in peilings en Rutte sal waarskynlik na die verkiesing weer ʼn regering wil vorm, hoewel dit onseker is saam met watter partye. Tans regeer die VVD (liberaal-konserwatief) saam met die CDA (Christen-demokraties en gematig), D66 (progressief-liberaal) en die ChristenUnie (sentrumlinkse Christenparty).

Die VVD is steeds baie gewild, juis weens die stabiele leierskap van Rutte, en die party behoort gemaklik eerste te kom in Maart se verkiesing. Die huidige grootste opposisieparty, die regse PVV, is ook tans in ʼn sterk tweede plek en behoort sy verteenwoordiging in die parlement te vergroot. Min partye is egter bereid om met die PVV in ʼn koalisieregering saam te werk. Die CDA en D66 vertoon egter swak en kan heelwat setels verloor, wat beteken dat Rutte na ander partye sal moet kyk om ʼn meerderheid in die parlement met sy 150 setels te kry.

Terwyl die pandemie tans ernstig in Nederland is, word die moontlikheid om die verkiesing uit te stel ook oorweeg. Byna een derde van Nederlandse kiesers het in ʼn onlangse peiling aangedui dat hulle weens die pandemie sou oorweeg om nie vanjaar te gaan stem nie. Indien Rutte na die verkiesing nog ʼn regering (sy vierde) kan lei, sal hy die tweede mees senior staatshoof van alle EU-lande raak, naas Viktor Orban van Hongarye.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pieter J

Ek dink Merkel se opvolger as bondskanselier gaan ń moeilike tyd hê. Merkel met haar liberale idees gaan ń klomp probleme vir haar opvolger agterlaat. Een hiervan is die miljoene moslems wat sy in Duitsland laat instroom het en wat besig is om onoplosbare probleme te skep.