Iris Apfel sterf

Iris Apfel (Foto: Instagram)

Iris Apfel, die Amerikaanse interieurontwerper en mode-ikoon onmiddellik herkenbaar aan haar groot uilagtige bril, is in die ouderdom van 102 dood.

Apfel is by haar huis in Palm Beach dood.

Apfel se agent het die nuus oor haar afsterwe Saterdag op haar sosialemediarekeninge bekend gemaak.

Apfel, hoofsaaklik ’n interieurontwerper, het ’n openbare figuur geword danksy ’n kontrak wat haar en haar man, Carl, wat in 2015 in die ouderdom van 100 dood is, betrek het by die interieurontwerp van die Withuis vir ses presidente.

Apfel het in haar 80’s en 90’s veral die aandag getrek met haar kort wit hare, opvallende uitrustings, massiewe bril, helder lipstiffie en groot kraalhalssnoere en armbande.

CNN berig haar beroemdheid het in 2005 vlam gevat toe die Metropolitan Museum of Art se kostuuminstituut in New York ’n uitstalling oor Apfel aangebied het genaamd Rara Avis – Latyn vir skaars voëls.

Apfel het na haarself verwys as ’n “geriatriese sterretjie” en het oor die jare gereeld op die modeblaaie van die New York Times en Vogue gepryk.

Apfel was bekend vir haar samewerking met ’n verskeidenheid handelsmerke: ’n Barbie is na haar beeld gemaak en sy het selfs ’n grimeringreeks saam met MAC Cosmetics vervaardig.

Apfel het ook in advertensies vir Coach en Kate Spade verskyn.

Die oorsaak van haar dood is nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.