Italië verskerp reëls vir oningeënte burgers

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Thomas Lohnes / AFP)

Mense wat in Italië woon en nie teen Covid-19 ingeënt is nie sal nou nie meer kan gaan fliek of sport- en musiekbyeenkomste bywoon nie.

Dié beperkings vorm deel van nuwe reëls wat Maandag in werking getree het.

Slegs mense wat kan bewys dat hulle onlangs van Covid-19 herstel het, is van dié reëls vrygestel.

Nuwe en verskerpte maatreëls, waaronder ʼn “groen pas”, sal ook vir die gebruik van openbare vervoer geld. Hierdie pas moet bewys van inenting, onlangse herstel van Covid-19 of ʼn negatiewe Covid-19-toets insluit.

Die pas is reeds in Augustus vir toegang tot verhoog- en musiekteaters, museums en binnenshuise eetplekke ingestel en in Oktober na werkplekke uitgebrei. Hierdie stap het destyds grootskaalse protesaksies in die land ontketen.

ʼn Nuwe “supergroen pas” sal van nou tot 15 Januarie slegs deur inenting of onlangse herstel verkry kan word en vir meeste kulturele aktiwiteite en binnenshuise restaurante geld. Dit sluit egter museums uit.

Mense wat die kroeggedeelte of buitegeriewe van ʼn kafee gebruik sal dit wel sonder ʼn supergroen pas mag doen.

Meer as 1,3 miljoen groen passe is reeds teen Sondag afgelaai terwyl boetes Maandag aan mense wat nié die pas op openbare vervoer kon toon nie, uitgereik is.

Volgens Corriere della Sera, ʼn Italiaanse dagblad, is ʼn middeljarige man met 400 euro (meer as R7 200) beboet toe hy sonder sy groen pas van ʼn bus naby Piazza de Popolo in Rome afgeklim het.

“Ek het dit nog nie gehad nie omdat ek beplan het om in die volgende paar dae ingeënt te word,” het hy aan die koerant gesê.

Rome het ook die afgelope naweek die dra van maskers in van sy besigste inkopiestrate verpligtend gemaak.

Italië was die eerste Europese land wat verlede jaar swaar deur die koronavirus getref is en is een van die lande met die hoogste sterftesyfer (134 000).

Italië vaar tans egter beter as baie van sy buurlande nadat 15 000 nuwe virusgevalle Sondag uit ʼn bevolking van 60 miljoen aangemeld is.

Meer as 85% van mense ouer as 12 jaar is nou al teen die virus ingeënt. Inentings vir jonger kinders sal na verwagting binnekort beskikbaar wees.

Daar word verwag dat die reëls nog strenger gemaak sal word in gebiede wat ʼn hoër risiko vir die koronavirus het.

Die meeste dele van die land is tans op die laagste van vier vlakke – wat van wit tot geel, oranje en rooi strek – met betrekking tot koronavirusbeperkings.

Twee streke, Friuli Venezia Giulia en Bolzano, is tans op die geel vlak. Hierdie streke grens aan Oostenryk, wat gedeeltelik ingeperk is weens die aantal nuwe gevalle in dié land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petrus Klipkop ·

Snaaks dat die wêreld so pnlangs as 30 jaar terug segregasiebeleide so skerp veroordeel het met boikotte, sanksies, resolusoes en dies meer, maar dat daardie selfde lande nou segregasiebeleide toepas…

VaalDonkie ·

Europa dink sommer daaraan om die Nuremburg-kode te skrap omdat dit kwansuis in hul pad staan. Plaas hulle wonder waarom hulle jare gelede die moeite gedoen het om dit in die eerste plek te skryf.

Samuel ·

Ramaphosa gaan vinnig moet leer om dieselfde maatreëls in SA in te stel. Belaglik verby.

Jeepie ·

Hoop daar word ‘n goeie belans gehou tussen die land se totale populasie regte, die individu se regte en ekonomiese impak. Maar ja, dink ons gaan nog baie van die “Covid” passports sin in die wereld. Baie soortgelyk aan van die inentings bewyse wat jy in ander lande moet gee as jy van SA reis. Seker niks nuuts nie, maar op ‘n baie groot skaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.