Japan se oudste persoon sterf op 116

Fusa Tatsumi

Japan se oudste persoon is Dinsdag in die ouderdom van 116 oorlede, nadat sy onder meer twee wêreldoorloë en verskeie pandemies oorleef het.

Fusa Tatsumi, gebore in 1907, het drie kinders saam met haar man, ʼn boer, in Osaka grootgemaak, het die plaaslike uitsaaier MBS berig.

“Tatsumi is Dinsdag in die ouderdom van 116 by ʼn sorgfasiliteit in Osaka dood,” het ʼn amptenaar in Kashiwara in die Osaka-prefektuur aan AFP gesê.

Hirofumi Yoshimura, goewerneur van Osaka, het sy medelye op die sosialemediaplatform X betoon en gesê hy het in September vanjaar ʼn partytjie bygewoon om Tatsumi se lang lewe te vier.

“Ek onthou nog hoe gesond sy was,” het Yoshimura gesê.

In beeldmateriaal wat deur MBS en ander plaaslike media uitgesaai is, kan Tatsumi in ʼn rolstoel gesien word, meestal aan die slaap, tydens haar 116de verjaardagviering in April.

Tatsumi is amptelik as Japan se oudste persoon erken nadat Kane Tanaka verlede jaar op 119 oorlede is.

Guinness World Records het Tanaka in April 2022 as die wêreld se oudste persoon erken.

Dié eer kom Maria Branyas, wat in die VSA gebore is, nou toe. Sy sal op 4 Maart 117 jaar oud word.

Naas Monaco is Japan wêreldwyd die land met die grootste bevolking ouer mense, met meer as 47 000 mense wat 100 jaar en ouer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Gebore sowat 5 jaar voor die Titanic gesink het . Wat het sy nie alles in haar tyd beleef tot hierdie jaar nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.