Japanse modeontwerper (84) sterf

Issey Miyake in 2016 in Tokio, Japan. (Foto: JIJI Press/AFP)

Issey Miyake, die Japanse modeontwerper wie se internasionale loopbaan oor meer as ʼn halfeeu gestrek het, is Vrydag dood.

ʼn Werknemer van die ontwerper in Tokio het Dinsdag aan AFP bevestig dat hy op 5 Augustus dood is. Hy was 84 jaar oud.

Hoewel die besonderhede van sy dood nie bekend gemaak is nie, het verskeie Japanse nuusbronne berig dat Miyake aan lewerkanker dood is. Sy begrafnis het reeds plaasgevind en is slegs deur familielede bygewoon.

Miyake was deel van ʼn vlaag jong, Japanse ontwerpers wat in die 1970’s hulle merk in Parys, Frankryk, gemaak het.

Die Franse modefederasie het Dinsdag hulde aan Miyake gebring. “Hy was die eerste buitelandse ontwerper wat in April 1974 ʼn vertoning op die Paryse modeweek gehad het,” het die federasie gesê.

“Miyake het van die begin af met onwrikbare toewyding bygedra tot die invloed van die Paryse modeweek,” het Bruno Pavlovsky, president van die Federation de la Haute Couture et de la Mode gesê.

Miyake se modehuis het verskeie jong, talentvolle ontwerpers ontgin en was bekend vir innoverende en skitterende loopplankvertonings.

Miyake is in 1938 in Hirosjima gebore en was sewe jaar oud toe die VSA ʼn atoombom in dié stad in Augustus 1945 laat ontplof het.

Hy het die ontploffing, wat sowat 140 000 mense dood gelaat het en gelei het tot die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog ná die bombardering van Nagasaki drie dae later, oorleef.

Issey Miyake (middel) en sy modelle groet die gehoor aan die einde van die Lente-Somer 1985-modevertoning op 22 Oktober 1984 in Parys, Frankryk. (Foto: Pierre Guillaud/AFP)

Die ontwerper het aan ʼn kunsskool in Tokio studeer en het in 1965 na Parys verhuis, waar hy verder aan die elite Ecole de la Chambre Syndicale de la Couture Parisienne studeer het. Hy het in 1970 die Miyake Design Studio in Tokio gevestig en het kort daarna sy eerste boetiek in Parys geopen.

Teen die 1980’s was sy loopbaan in volle swang terwyl hy met materiaal soos plastiek, metaal en selfs Japanse papier geëksperimenteer het.

Van sy uitvindings sluit in die Pleats Please-reeks, asook die A-POC (a piece of cloth)-konsep, wat van rekenaars gebruik maak om volledige uitrustings sonder nate uit te sny.

Hy het ook meer as 100 swart rolnektruie vir Steve Jobs, mede-stigter van Apple, gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.