Kaboel: Taliban beskuldig vir aanval op vroueregters

Die twee regters is in ‘n sluipmoordaanval geteiken. (Foto: @mmodaser/Twitter)

Gewapende aanvallers het twee Afgaanse vroueregters Sondag doodgeskiet in ʼn lokval in die land se hoofstad – ʼn aanval waarvoor die top-Amerikaanse afgevaardigde in Kaboel die Taliban verantwoordelik hou.

Geweld in Afganistan het die afgelope ruk toegeneem, ondanks voortgesette vredesgesprekke tussen die Taliban en die regering. Dit is veral die geval in Kaboel, waar ʼn nuwe neiging om vooraanstaande mense te teiken, vrees in die stad veroorsaak het.

Die jongste aanval, wat die VSA se Ross Wilson aan die Taliban toegeskryf het, kom net twee dae nadat die Pentagon aangekondig het dat hy troepe in Afganistan tot 2 500 gaan verminder – die laagste getal in sowat twee dekades.

Die aanval op die regters is uitgevoer terwyl hulle in ʼn voertuig van die hof op pad werk toe was, het Ahmad Fahim Qaweem, ʼn woordvoerder vir die hooggeregshof, gesê.

“Ongelukkig het ons twee vroueregters in vandag se aanval verloor. Hulle bestuurder is gewond,” het Qaweem gesê.

Meer as 200 vroueregters werk vir die land se hoogste hof.

Die polisie in Kaboel het die aanval bevestig, maar niemand het nog aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie.

Afganistan se hooggeregshof is ook in Februarie 2017 geteiken toe ʼn selfmoordbom deur ʼn skare hofbeamptes geruk het. Minstens 20 mense is dood en meer as 40 gewond.

Die jongste aanval is uit talle oorde skerp veroordeel, met Wilson wat die skuld regstreeks op die Taliban gepak het.

“Die Taliban moet verstaan dat sulke optrede waarvoor hy verantwoordelik is, die wêreld woedend maak en hy moet dit staak as daar enigsins vrede in Afganistan gaan wees,” het Wilson op Twitter geskryf.

Die VSA het ná die aanvalle sy burgers in Afganistan aangeraai om die land te verlaat.

Afgaanse pres. Ashraf Ghani het ook die Taliban daarvan beskuldig dat hy besig is met ʼn “onregmatige oorlog en vyandigheid”.

“Die regering herhaal sy beroep op die Taliban dat geweld, terreur, wreedheid en misdade … net die oorlog in die land gaan verleng,” het Ghani gesê in ʼn verklaring wat die presidensiële paleis uitgereik het.

Die Afgaanse parlement het vroeër vandeesmaand gehoor die Taliban het meer as 18 000 aanvalle in 2020 uitgevoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Kan Kaboel se naam nie verander word na Kaboem of Warboel nie? Daar is altyd ‘n kaboem in Kaboel wat ‘n warboel skep.

Heinrich ·

Ek glo regtig die Taliban stel nie in vrede belang nie. Trek die Amerikaners uit gaan hulle net weer wil oorneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.