Kanye West wil sy naam verander

Kanye West in November 2019. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die kletsrymer Kanye West, wie se volle name Kanye Omari West is, het aansoek gedoen om sy naam amptelik na slegs Ye te verander.

Hy het “persoonlike redes” vir die besluit aangevoer in hofdokumente wat in Los Angeles, VSA, ingedien is.

Dit volg drie jaar nadat die musiekster, modeontwerper en hoopvolle presidentskandidaat op Twitter gesê het hy wil sy naam verander nadat sy album getiteld Ye uitgereik is.

Hy het destyds na “die wese” wat formeel en voormalig bekend gestaan het as Kanye West verwys en aangekondig: “Ek is Ye.”

Die 44-jarige het voorheen gesê sy nuwe naam het ʼn “godsdienstige betekenis” vir hom. “Ek glo ‘ye’ is die woord wat die meeste in die Bybel gebruik word, en dit beteken ‘jy’,” het West in 2018 aan die radio-omroeper Big Boy gesê.

“So, ek is jy, ek is ons, dit is ons. Dit het gegaan van Kanye, wat beteken ‘die enigste een’, tot slegs ‘Ye’ – dit is net ʼn weerspieëling van ons goed, ons sleg, ons verwarring, alles.”

Hy sal na verwagting binnekort sy tiende album uitreik wat vernoem is na sy ma, Donda, hoewel die uitreiking van dié album vele kere uitgestel is.

Hy is ook in ʼn egskeiding met Kim Kardashian gewikkel en het gesê hy beplan om hom in 2024 as presidensiële kandidaat beskikbaar te stel, nadat hy 60 000 stemme in 2020 gekry het.

Hy en Kardashian het in Februarie vanjaar aangekondig dat hulle paaie ná ʼn huwelik van sewe jaar gaan skei.

Bronne: BBC, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ES ·

Dis nou wat gebeur as jy so baie geld het dat jy nie meer weet wat om daarmee te doen nie…

RS ·

As jy verveeld is, aandag soek en te veel geld vir snert het, dan maak jy so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.