‘Katastrofiese brandtoestande’ duur voort in Australië

Die Grose Valley-brand woed in die agtergrond (21 Desember 2019) (Foto: AAP Image/Dan Himbrechts)

New South Wales in Australië is Saterdag lamgelê deur “katastrofriese brandtoestande” te midde van hoë temperature. Minstens een persoon is dood terwyl veldbrande in die suidooste van die land woed.

“Katastrofiese brandtoestande is so erg soos wat dit kan wees,” het Shane Fitzsimmons, kommissaris van New South Wales se landelike brandweer, aan verslaggewers gesê. “Gegewe dat ons ʼn landskap het waar so baie brande aktief is, lei dit tot erge kommer en die toestande is baie gevaarlik.”

Gedeeltes in die weste van Sydney sal na verwagting 47°C behaal. Koeler lug sal na verwagting later Saterdag New South Wales bereik, alhoewel owerhede gewaarsku het dat winde die brande in gevaarlike nuwe rigtings kan druk.

New South Wales is in ʼn sewe dae lange noodtoestand en ongeveer 2 000 brandbestryders is aktief op 100 veldbrande.

Twee brandbestryders is Donderdag dood terwyl hulle ʼn brand in die suidweste van Sydney bestry het. Geoffrey Keaton (32) en Andrew O’Dwyer (36), was in ʼn vragmotorkonfooi in die suidweste van Sydney toe ʼn boom omgeval en hulle voertuig die pad verlaat het.

Owerhede het Saterdag bevestig een persoon is dood en 15 huise is verwoes in Suid-Australië toe ʼn veldbrand Adelaide Hills Vrydag getref het. Nog ʼn persoon is kritiek beseer toe hy sy huis van die vlamme wou red.

ʼn 24-jarige man is Vrydag in Suid-Australië dood tydens ʼn motorongeluk wat ʼn brand in Murraylands veroorsaak het.

Owerhede het gesê 23 brandbestryders en verskeie polisiebeamptes het ook beserings opgedoen. Meer as 40 000 hektaar brand oor Suid-Australië.

“Dit gaan ʼn toneel van absolute verwoesting wees, veral vir diegene in Adelaide Hills wat die swaarste hierdeur getref word,” het Steven Marshall, premier van Suid-Australië, gesê. “Buiten die geboue en voertuie wat verwoes is, is daar ook beduidende verliese wat betref vee, oeste en wingerde.”

Ongeveer 3 miljoen hektaar het die afgelope paar maande reeds landswyd gebrand. Minstens nege persone is dood en meer as 800 huise verwoes.

Die verwoesting plaas druk op eerste minister Scott Morrison, wat veroordeel word vir die feit dat hy saam met sy gesin met vakansie was in Hawaii tydens die veldbrandkrisis. Hy het Vrydag om verskoning gevra vir enige aanstoot “aan enige van die talle Australiërs wat deur die vreeslike veldbrande geraak word”.

Hy het sy vakansie kortgeknip en Saterdag teruggekeer huis toe. Hy sal na verwagting Sondag die New South Wales-brandweer se hoofkantoor besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.