Klasaksie teen Las Vegas Grand Prix ingestel

Ferrari se Spaanse jaer Carlos Sainz by die tweede oefensessie voor die Grand Prix in Las Vegas. (Foto: Angela Weiss/AFP)

’n Klasaksie-regsgeding is vandeesweek teen Formule Een se Las Vegas Grand Prix aanhangig gemaak nadat aanhangers die eerste twee oefensessies moes misloop.

Die Spaanse renjaer Carlos Sainz se renmotor is Donderdag tydens die eerste oefensessie beskadig toe dit ʼn mangatdeksel getref het en die sessie is ná net nege minute opgeskort.

Die tweede oefensessie het gevolglik twee en ʼn half uur later as beplan begin (02:30 in plaas van middernag) nadat baanbeamptes die beskadigde mangatdeksel moes herstel en al die ander op die baan moes nagaan.

Die vertraagde tweede oefensessie het op die ou end voor leë pawiljoene plaasgevind nadat toeskouers die terrein moes verlaat omdat die personeel aan diens teen daardie tyd die einde van hul wettige werkstyd bereik het.

F1 en Las Vegas Grand Prix het vir aanhangers wat enkelsessiekaartjies vir Donderdag gekoop het koopbewyse van $200 as troosprys aangebied, maar dit het nie toeskouers se uitgawes gedek wat dit as deel van meerdagpakkette bygewoon het nie.

’n Klasaksie-regsgeding is gevolglik Vrydag by die Nevada-distrikshof aanhangig gemaak.

Vyf individue is as eisers in die geding geïdentifiseer. Hulle eis vergoeding en algemene skadevergoeding.

“Ons sal baklei vir die regte van die ondersteuners wat groot afstande afgelê het en ʼn klein fortuin betaal het om dit by te woon, maar van die ervaring ontneem is,” sê Steve Dimopoulos van die regsfirma Dimopoulos in Las Vegas, Nevada.

’n Woordvoerder van Formule Een het die klasaksie intussen aan AFP bevestig, maar nie verdere kommentaar gelewer nie.

“Ons prioriteit is om te verseker dat ons aanhangers ’n vermaaklike ervaring in ’n veilige omgewing het,” het ’n woordvoerder van die Las Vegas Grand Prix gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.