Kleintyddroom rede vir Hamilton-skuif na Ferrari

Lewis Hamilton. Foto: Twitter.

Lewis Hamilton, die sewemalige Formule 1-wêreldkampioen, sal Mercedes aan die einde van die 2024-seisoen, ná ’n ongelooflike 11 jaar verlaat, om sy kindertyddroom – om vir Ferrari te jaag – eindelik te verwesenlik.

Die 39-jarige het in Augustus verlede jaar ʼn nuwe tweejaarkontrak van £100 miljoen ($126 miljoen) met Mercedes gesluit.

Hy het egter vandeesweek ʼn ontbindingsklousule geaktiveer om sy skuif na die Italiaanse span te bevestig nadat hy erken het dat die vooruitsig “om in Ferrari-rooi te ry” te moeilik was om van die hand te wys.

“Dit was ʼn mal paar dae, gevul met ʼn hele reeks emosies,” het Hamilton in ʼn verklaring gesê.

“Maar soos julle almal nou weet, het die tyd aangebreek dat ek ’n nuwe hoofstuk in my lewe aanpak en ek sal in 2025 by Scuderia Ferrari aansluit.

“Nadat ek dinge met Mercedes bereik het waarvan ek as kind net kon droom, is ek ongelooflik gelukkig dat ek nou die kans het om nog ʼn kinderdroom te verwesenlik – om in Ferrari-rooi te kan jaag.”

Hamilton sê Mercedes was ʼn groot deel van sy lewe – sedert hy slegs 13 jaar oud was – en dat dit daarom die moeilikste besluit was wat hy nog moes neem.

Mercedes-spanhoof, Toto Wolff, het Vrydag volgehou dat daar geen kommer oor Hamilton se integriteit voor sy laaste seisoen is nie.

Hamilton het ook sy respek vir Wolff en die Mercedes-organisasie duidelik gemaak.

“Ek is ongelooflik trots op alles wat ons saam bereik het en natuurlik Toto, vir sy vriendskap, leiding en leierskap.

“Saam het ons titels gewen, rekords gebreek en die suksesvolste bestuurder-span-vennootskap in F1-geskiedenis geword.”

Hamilton het belowe om op ’n hoë noot saam met Mercedes af te sluit, en bygevoeg dat hy nou meer gedrewe as ooit is.

“Ek is fikser en meer gefokus as ooit en ek wil Mercedes weer help om te wen.

“Ek is 100% toegewyd aan die werk wat ek moet doen en vasbeslote om my vennootskap met die span op ʼn hoogtepunt af te sluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Dit lyk my elke F1 kampioen wil by Ferrari kom aftree. Is hulle pensioene beter? Persoonlik dink ek jou dae is by Mercedes getel, en hulle wil ‘n nuwe bestuurder in die span kry. My vraag is wie?

Leon ·

Kleintyddroom ?? Hoekom wag tot einde van loopbaan en dan droom verwesenlik ??

Louis ·

Jy is n has been.los maar formule een.ferrarie gaan jou nie laat wen nie.

Gert ·

Dis Jammer. Het altyd Ferrari ondersteun. Hoop Leclerc doen nog goed. Hamilton het egter die laaste paar jaar getoon dat hy swak sportmangees het en miskien moes hy minder aandag geskenk het om sy politieke en Woke sentimente op almal af te dwing, dan sou hy miskien beter gedoen het. Ek het nogal ‘n goeie beskrywende naam vir hom maar mag dit nie hier noem nie……

daarsdit ·

Gert, stem saam. Het altyd vir Ferrari ondersteun. Sal van 2025 af net hoop en bid Charlie doen goed. Pla my nou maar min wat word van die res.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.