Kleuter red gesin van huisbrand

Klein Brandon Dahl (2) het sy ouers wakkergemaak toe hul huis aan die brand geslaan het. (Foto: Washington Post / Kayla Dahl)

“Mamma, warm.”

Dít was glo die woorde van ʼn tweejarige seuntjie aan sy ouers toe hul huis in Texas in die VSA aan die brand geslaan het. Kayla (28) en Nathan (33) Dahl het glo nie self die rook geruik nie aangesien hulle Covid-19 opgedoen en hul reuksin verloor het.

Die seuntjie se paraatheid sou eindelik die lewens van sy hele huisgesin red.

Die nuusblad The Washington Post berig dat klein Brandon die paartjie vroeg een oggend verlede maand wakker gemaak het deur na hul kamer te stap en sy ma aan haar voet te trek. Hy moes deur die gesin se brandende sitkamer loop om by sy ouers se kamer uit te kom.

Luidens die berig het Kayla aanvanklik gedink dat haar seuntjie sy nagklere wou uittrek omdat hy warm kry. Sy het egter vinnig besef dat hy eintlik na die vlamme verwys wat besig was om die gesin se huis in Alvord te verswelg.

In ʼn onderhoud met die nuusblad sê Kayla dat nie een van die rookverklikkers in die huis alarm gemaak het nie en dat sy en haar man boonop nie die rook kon ruik nie.

“Ons herstel nog van Covid, so nie een van ons het al ons reuk- of smaaksin herwin nie.”

Die Dahl-gesin se huis in Alvord, Texas het in Januarie afgebrand. (Foto: Wise County Messenger)

Die egpaar en hul vyf kinders het binne minute deur die voordeur ontsnap. Hul huis is egter in die brand verwoes.

“Dit gaan ʼn lang, moeilike pad wees om weer te kom waar ons moet wees en al die materiële goed te vervang. Terselfdertyd weet ons nie waar ons sou wees as dit nie vir ons seuntjie se beskermengel was nie.

“Op ʼn manier, met God se genade, het hy [Brandon] dit deur ons brandende sitkamer tot in ons slaapkamer gemaak. Dis ʼn wonderwerk van God.”

Kayla sê nadat Brandon haar wakker gemaak het, het sy die vlamme na hul slaapkamer sien aankom.

“In dié stadium het ek geweet ons moet ons kinders kry en uitkom.”

Sy het die 911-nooddiens gebel terwyl haar man, ʼn vrywillige brandbestryder, die kinders veilig uit die huis geneem het.

Kayla sê hoewel hulle rookverklikkers in die huis het, het hulle ook gebeurlikheidsplanne in plek gehad wat saam met die kinders ingeoefen was.

Sy sê Brandon besef nog nie die impak van sy heldedaad nie, maar dat mense wat die gesin van die nuus af herken, die kleuter in winkels op die skouer klop en sê “jy is ʼn held”.

 

Bron: Washington Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Ek kan goed glo oor die reuksintuig. Ek het begin Junie 2020 covid opgedoen, die 10e Januarie 2022 was dit amptelik 7 maande wat ek nogsteeds niks kan ruik of proe nie. Ek tel die dae verby. Probeer alles wat gesê word, maar steeds niks.

LD ·

Wat op dees Aarde – hoe op dees aarde kry jy dit reg? Junie 2020 tot Januarie 2022 is beslis nie 7 maande nie…… dalk ñ tik fout? Maar ek stem, het ook covid gehad Julie 2021 en kon vir so 2 maande niks ruik of proe nie. Gelukkig het dit terug gekom! Dis glad nie lekker om die lekkerste kos te eet maar niks te proe nie!

Christine ·

Sjoe, ongelooflik van die slim tweejarige! Die ander 4 kinders was sekerlik ouer, en almal slaap deur als.

madels ·

Absolute wonderwerk. Wat n klein held! So dankbaar dat hulle veilig is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.