Koebaai Barbie; Viëtnam sê nee vir fliek

Die aktrise Margot Robbie in Seoul. (Foto: Jung Yeon-Je/AFP)

Viëtnam het die lang verwagte Barbie-rolprent verbied omdat die fliek glo ʼn kaart bevat wat China se aanspraak op grondgebied in die Suid-Chinese See aandui. Viëtnam maak aanspraak op dieselfde gebied.

Die fantasiekomediefilm oor die wêreldberoemde pop, met Margot Robbie en Ryan Gosling in die hoofrolle, sou op 21 Julie in Viëtnam begin draai het.

Viëtnamese staatsmedia berig egter dat die vertoningskedule vir die rolprent van al die grootste rolprentkettingteaters se webwerwe verwyder is. Dit kom ná ʼn regeringsbesluit om die film te verbied weens tonele wat die sogenaamde nege-stippellyn bevat.

China het lank reeds die sogenaamde nege-stippellyn gebruik om sy aanspraak op die grootste deel van die hulpbronryke see aan te dui. Viëtnam maak egter ook aanspraak op dele van hierdie waterweg.

“Die filmresensieraad het die rolprent gekyk en besluit om die vertoning daarvan in Viëtnam te verbied weens ʼn oortreding met betrekking tot die illustrasie van die sogenaamde nege-stippellyn,” het Vi Kien Thanh, direkteur van Viëtnam se departement van films, aan die Dan Tri-nuusagentskap gesê.

Nog ʼn staatsmediahuis, Tien Phong, berig dat tonele met die nege-stippellyn verskeie kere in die rolprent verskyn.

Sensors moet alle rolprente in kommunistiese Viëtnam goedkeur. Hulle oorweeg onder andere tonele wat onnodige geweld, suggestiewe sekstonele of polities-sensitiewe materiaal bevat.

Verlede jaar is die aksie-en-avontuurfliek Uncharted, met Tom Holland in die hoofrol, uit teaters geskop weens tonele wat ook die nege-stippellyn vertoon.

In 2018 het Viëtnam ʼn toneel uit die romantiese komedie Crazy Rich Asians verwyder wat ʼn ontwerpersak met ʼn kaart van die wêreld op gewys het, wat die betwiste Suid-Chinese See-eilande onder Beijing se beheer wys.

ʼn Jaar later het die land ook die tekenprent Abominable om dieselfde rede uit teaters gegooi, terwyl Netflix verlede jaar aangesê is om episodes van sy Pine Gap-reeks oor soortgelyke tonele te skrap.

Die Suid-Chinese See is die tuiste van waardevolle olie- en gasneerslae en skeepsroetes. Verskeie buurlande van China het reeds hul kommer te kenne gegee dat Beijing probeer om sy mag uit te brei deur aanspraak op ander dele van dié gebied te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ek het nou verleede naweek Guardians of the Galaxy gaan sien en dit terdee geniet. Kan rerig nie sien R199 later dat ek by Barbie sal uitkom. Al daai pienk en geel maak my ril!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.