Kommer oor Brittanje wat trofeejag wil verbied 

‘n Betoging teen trofeejag in Londen (Foto: WIktor Szymanowic /NurPhoto /NurPhoto via AFP)

ʼn Poging om die invoer van jagtrofeë na Brittanje te verbied het tot ontsteltenis onder Suider-Afrikaanse bewaringsbewustes gelei met sommige wat meen die wetsontwerp is teenproduktief en het ʼn kolonialisme-geurtjie.

Britse wetmakers sal Vrydag oor die wetsontwerp, wat daarop gemik is om bedreigde diere te help beskerm en die steun van talle bekendes het, stem.

Kritici sê om wilde diere vir die pret te skiet is wreed, verkwistend en stoot bedreigde spesies nader aan uitwissing.

“Kan iemand vir my ʼn beter definisie van kolonialisme gee as wit mense wat na Afrika vlieg en sê: ‘Ek gaan hierdie diere skiet vir die pret; dit is my reg om dit te doen’?”, het Eduardo Goncalves, stigter van die Campaign to Ban Trophy Hunting, Woensdag op ʼn vergadering ter ondersteuning van die wetsontwerp in Westminster gesê.

Baie gemeenskappe en regeringsamptenare regoor Suider-Afrika is egter teen die verbod en voer aan dat die jag van ʼn klein aantal geselekteerde diere broodnodige inkomste genereer om bewaringspogings te bevorder en plaaslike gemeenskappe te ondersteun.

Bewaringsbewustes en gemeenskapsleiers van Botswana, Angola, Zambië en Namibië het vroeër vandeesmaand in ʼn brief aan Brittanje se minister van ontwikkeling en Afrika, Andrew Mitchell, gewaarsku die wet sal ʼn negatiewe impak hê.

“Met verminderde inkomste uit trofeejag sal stropery toeneem omdat daar minder befondsing sal wees om salarisse aan wildbewaarders uit die gemeenskap te betaal,” lui die brief.

“Ons voel asof dit nog ʼn manier is om Afrika te herkoloniseer.”

Thato Raphaka van Botswana se departement van toerisme en omgewing, het gesê Suider-Afrika-lande beywer hulle daarvoor om die wet te laat vaar.

Botswana, wat spog met die wêreld se grootste olifantbevolking, het trofeejag in 2014 verbied, maar die beperking vyf jaar later opgehef ná druk van plaaslike gemeenskappe.

Die wildlewe-bevolking in Afrika het volgens die Wêreldnatuurfonds sedert 1970 met 66% afgeneem.

Tog het die groep gesê dat trofeejag, wanneer dit goed bestuur word, ʼn “effektiewe bewaringsinstrument” is.

Britte maak ʼn klein deel uit van trofeejagters in Suider-Afrika.

Die meeste jagters in Suid-Afrika kom uit die VSA, volgens ʼn 2021-verslag deur die diereregtegroep Humane Society International, met Brittanje wat nie eens in die toptien van die lys verskyn nie.

Daar is egter vrese dat ander lande die voorbeeld kan volg sou die wet in Brittanje deurgevoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rudolph ·

Geen dier verdien om as lewende teiken te dien vir mense wat psigopatiese neigings het nie

Piet Snot ·

“Kan iemand vir my ʼn beter definisie van kolonialisme gee as wit Britte wat aan Afrikane probeer voorskryf wat hulle met hul eie diere mag doen?” Wens Eduardo Goncalves kon hierdie lees.

Martin ·

Hierdie Eduardo persoon is ‘n blatante rassis wie gee hom die reg om te sê “wittes” wil na Afrika toe kom om te kom diere skiet! Enigiemand wil na Afrika toe kom om te kom diere skiet nie net “wittes” nie. Lyk my slegs blankes kan volgens hom na Afrika toe kom om te kom jag wys jou net hoe onnosel sommige mense is.

Johan ·

Formele jag doen by uitstek die meeste bewaring. Jag gee aan wild n waarde, en waardevolle goed word beskerm en bewaar. So maklik soos dit. As mense nie wild mag jag nie, word dit vervang met vee wat kos op die tafel kan sit. Ek wens so die groenies wil wakker skrik.

Hasie ·

Dit is soos om te sê moord op mense doen goeie werk want dit verminder werkloosheid ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.