Koning Charles in ligte luim by Paasdiens

Brittanje se koning Charles III het Sondag ʼn Paasdiens bygewoon in sy eerste hoëprofiel- openbare verskyning nadat hy vroeër vanjaar bekend gemaak het dat kanker by hom gediagnoseer is. (foto: Justin Tallis/AFP)

Brittanje se koning Charles III het Sondag ʼn Paasdiens bygewoon in sy eerste hoëprofiel- openbare verskyning nadat hy vroeër vanjaar bekend gemaak het dat kanker by hom gediagnoseer is.

Charles en sy vrou, koningin Camilla, het met ʼn motor aangekom vir die uur lange oggenddiens by die St. George-kapel op die terrein van Windsorkasteel, wes van Londen.

Die 75-jarige monarg, geklee in ʼn snyerspak en ligblou das, het geglimlag en vir die skare gewuif. Talle mense het ure lank gewag vir ʼn blik van die koning voor hy die kapel binnegegaan het.

Ná die diens het Charles en Camilla sommige van die mense gegroet en blad geskud.

Die bywoning van die jaarlikse diens is ʼn ou tradisie vir die koninklikes. Ander lede van die koningshuis het ook die diens bygewoon.

Prins William, die Britse troonopvolger, en sy vrou, Catherine, was egter sigbaar afwesig. Die 42-jarige prinses van Wallis ondergaan ook behandeling nadat sy verlede week bekend gemaak het kanker is ook by haar gediagnoseer.

Die situasie skep ʼn ongekende krisis in moderne tye vir die monargie, met twee van sy mees senior lede wat terselfdertyd teen ʼn ernstige siekte veg.

Charles was maar 17 maande op die troon toe Buckinghampaleis in Februarie bekend gemaak het dat hy kanker het en alle openbare byeenkomste opskort terwyl hy behandeling ondergaan.

Ná die diens het koning Charles III en koningin Camilla sommige van die mense gegroet en blad geskud. (Foto: Hollie Adams/AFP)

Hy het in Januarie ʼn operasie vir ʼn goedaardige prostaattoestand ondergaan en in daardie tyd is onverwante kanker by hom gediagnoseer. Die soort kanker is nie bekend gemaak nie.

Die koning het egter agter geslote deur bly werk en het vergaderings gehad en weer al hoe meer amptelike, openbare byeenkomste bygewoon. Die afgelope week het hy ʼn Paasboodskap opgeneem. Dit is Donderdag in sy afwesigheid by Worcester-katedraal, in sentraal-Engeland, uitgesaai. In die boodskap benadruk hy die belang van vriendskapsdade.

Die monarg is ook afgeneem waar hy Donderdag gemeenskap- en geloofsleiers by Buckinghampaleis ontvang. Verlede week was daar ook foto’s van hom wat diplomate by die paleis ontvang, asook veterane van die Koreaanse Oorlog.

Charles het vroeër in ʼn verklaring gesê hy gaan voort om die mense “na die beste van my vermoë” te dien en dat hy “diep geraak” is deur mense se boodskappe van beterskap.

Hy het ook sy skoondogter Kate, soos sy alombekend is, geloof vir haar dapperheid. Catherine het in ʼn diep persoonlike videoboodskap die nuus oor haar kankerdiagnose en behandeling gedeel. Die prinses is laas op Kersdag by ʼn openbare geleentheid gesien. Sy het in Januarie ʼn operasie aan haar buik ondergaan en die kanker is toe ontdek.

Die kantoor by Kensingtonpaleis het destyds gesê die prinses sal na verwagting eers weer ná die Paastyd haar openbare pligte hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.