Koronavirus: Leë stadions vir sokkerwedstryde

Die Santiago Bernabéu-stadion in Spanje (Foto: Kevin Ramirez/Pixabay)

Alle toekomstige professionele sokkerwedstryde in Spanje en Portugal, sommige in Duitsland en ʼn kwalifiserende ronde van die Europese kampioenskap, sal in leë stadions plaasvind weens die koronavirus-uitbreking.

Die Spaanse liga het Dinsdag gesê wedstryde in die eerste en tweede rondes sal vir minstens twee weke sonder toeskouers plaasvind.

Dié aankondiging volg ná die regering ʼn reeks voorkomingsmaatreëls in plek gestel het om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te beperk.

Die liga het gesê hy sal “aanbevelings en besluite volg” en die gesondheid van toeskouers, spelers, klubpersoneel en verslaggewers prioritiseer.

Portugal het soortgelyke maatreëls aangekondig vir sy professionele liga en gesê jeugsokkerkompetisies sal tot 28 Maart opgeskort word. Nieprofessionele sokkerwedstryde mag nie voortgaan indien die skare groter is as 5 000 mense nie.

Dit volg ʼn dat ná Italië alle sportgeleenthede tot 3 April in die land opgeskort het, insluitend reeks A-wedstryde en vooraf-geleenthede voor die Tokio Olimpiese Spele.

Die eerste groot wedstryd in die Spaanse liga sonder toeskouers is Vrydag tussen Real Madrid en Eibar by die Santiago Bernabéu-stadion.

Basketbalwedstryde in Spanje sal ook in leë stadions plaasvind.

Spanje se minister van gesondheid het Maandag ʼn skerp toename aangekondig in gevalle van die koronavirus in en rondom Madrid en gesê alle skole in die streek word vir twee weke gesluit. Teen Dinsdag was daar meer as 1 600 bevestigde gevalle in Spanje met 35 sterfgevalle en meer as 100 persone in die hoësorgeenheid.

Vir meeste persone veroorsaak Covid-19 slegs ligte of matige simptome soos koors en hoes. Sommige persone, veral ouer persone en mense met bestaande gesondheidsprobleme, kan moontlik longontsteking opdoen.

Die grootste hoeveelheid mense herstel van die nuwe virus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel persone binne ongeveer twee weke. Persone met erger simptome herstel gewoonlik binne drie tot ses weke.

In China, waar meer as 80 000 gevalle aangemeld is, het meer as 63 000 persone reeds herstel.

*Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.