Kragonderbrekings in die VSA laat miljoene bibber

Mense stap Maandag met hul inkopies in die sneeu in Austin, Texas. (Foto: Montinique Monroe/Getty Images/AFP)

Miljoene Amerikaners sukkel Woensdag steeds sonder elektrisiteit terwyl ʼn bittere koue van ʼn winterstorm oor ʼn groot deel van die VSA, tot so ver suid as Mexiko voortduur.

Die Arktiese weerstelsel – waar temperature tot rekordlaagtes gedaal het in plekke wat nie op sulke toestande voorbereid is nie, het plaaslike elektrisiteitsmaatskappye oorweldig. Inwoners moes onder jasse en komberse probeer warm bly.

Kragvoorsieners in Texas het beurtkrag ingestel om seker te maak dat die netwerk nie oorweldig word nie terwyl inwoners verwarmers aanskakel. Sommige mense is al dae lank sonder elektrisiteit.

Maroela Media het vroeër berig pres. Joe Biden het reeds Sondag ’n noodverklaring vir Texas uitgereik, wat beteken dat federale hulp verleen word om staatshulppogings aan te vul. Die temperatuur in Houston het tot -9 grade Celsius gedaal.

Volgens Poweroutage.us was nagenoeg 3 miljoen residensiële, handels- en industriële verbruikers Woensdagoggend sonder elektrisiteit.

Die week se toename in die aanvraag na elektrisiteit kom terwyl ysige toestande gas-aanlegte oorweldig het en windturbines tot stilstand gevries het.

Die Amerikaanse Rooikruis het 35 hitteskuilings oor Texas oopgemaak. Meer as 20 stormverwante sterftes, insluitend verkeersongelukke in Texas, Kentucky en Missouri, is reeds aangemeld sedert die koue weer verlede week getref het.

Verskeie diere het ook by Primarily Primates, ʼn wildreservaat naby San Antonio, Texas, omgekom toe personeellede hulle nie warm genoeg kon hou ná die fasiliteit Maandag kragonderbrekings beleef het nie. Brooke Chavez, uitvoerende direkteur, het aan die San Antonio Express-News gesê ʼn sjimpansee, verskeie apies, lemurs en tropiese voëls het weens die koue omgekom.

Volgens die Nasionale Weerdiens (NWS) was meer as 71% van die kontinentale VSA Woensdag met sneeu bedek. Die stormstelsel sal na verwagting teen Donderdag na die noordooste van die VSA beweeg, maar die NWS waarsku oor voortgesette gevaarlike toestande.

Alhoewel verskeie van die stormverwante sterftes weens verkeersongelukke aangemeld is, het die polisie in Houston ʼn geval aangemeld van ʼn vrou en ʼn meisie wat weens koolstofmonoksiedvergiftiging omgekom het toe hulle in ʼn voertuig in ʼn motorhuis gesit het met die enjin wat luier, om warm te bly.

ʼn Man in Louisiana is dood toe hy op die ys gegly en sy kop gestamp het en ʼn 10-jarige seun van Tennessee is dood toe hy en sy sesjarige sussie Sondag deur die ys in ʼn dammetjie geval het.

Die winterstorm het minstens vier tornado’s tot gevolg gehad, aldus weather.com, gebaseer in Atlanta – insluitend een Maandag in Noord-Carolina waartydens minstens drie mense omgekom en 10 beseer is.

Mexikaanse beamptes het gesê ses persone het reeds weens die koue gesterf en pypleidings, wat gevries het, het ook kragonderbrekings veroorsaak. Vier persone is dood in Monterrey, waarvan drie hawelose persone was. Een persoon het weens koolstofmonoksiedvergiftiging van ʼn verwarmer omgekom. Twee landbouwerkers is in Tamaulipas dood weens verkluiming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Therese ·

Kragonderbrekings ontwrig die moderne mens se lewe en veroorsaak pyn, lyding en die dood.
“Net Zero Emissions” is egter die ‘mantra’ van die dag en, hoewel verduidelikings vaag is, blykbaar die resep om Aarde en Mensdom van algehele verskrikking te red.
Klimaatkundiges en politici het alles binnekort onder beheer m.b.v. son en wind.

Fedup ·

So old bad of rocks ain’t in office 2 months and now the fun starts.
Welcome to the next south africa.

Dirk Mostert ·

Aardverwarming dat dit bars. Kragonderbrekings weens windturbines (VSA) en sonpanele (Duitsland) wat deur ys bedek is.

Raakvatter ·

Ek sien dit in baie artikels, kan iemand dalk verduidelik (nooit te oud om te leer nie).
Hier word gepraat van “DRIE mense omgekom en 10 beseer”.
Ander berig verwys na “tussen 10 en twintig”. (nie verwant aan die berig nie)
Hoekom nie tussen 10 en 20 of tien en twintig nie? of 3 en 10 of drie en tien nie?
Sal graag wil weet.
Groete

Vrijburger ·

“Stop Global Warming, built more windmills!”
LMGA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.