Kragtige aardbewing skud Peru

(Foto: Daily Star/Twitter)

ʼn Aardbewing van 8,0 het die sentrale dele van Peru vanoggend getref. Dit is nog onseker of enige sterftes aangemeld is.

Luidens berigte was die episentrum naby Loreto in die Amasone-reënwoud. Dit is nagenoeg 180 km oos van Moyobamba, die hoofstad van die San Martin-streek in die noorde van Peru.

Die aardbewing was glo op ʼn diepte van sowat 105 km.

Die Britse Express berig die aardbewing het groot skade veroorsaak. ʼn Pad het onder meer ingesak en verskeie geboue het ineengestort.

Kragonderbrekings is ook in verskeie Amasone-stede aangemeld. Watertoevoer na sommige gebiede is ook onderbreek.

Die aardbewing is aanvanklik as 7,5 geregistreer, maar is sedertdien na 8,0 opgegradeer. ʼn Aardbewing van 8,0 is geweldig kragtig en kan soveel as 240 km verder gevoel word.

Luidens berigte kon die aardbewing ook in buurlande soos Brasilië, Colombië en Ecuador gevoel word.

Mirror berig die aardbewing was die grootste ter wêreld vanjaar.

Nagenoeg 140 000 mense woon in ʼn radius van nagenoeg 100 km van die episentrum.

Peru se president, Martin Vizcarra, het mense op Twitter gevra om kalm te bly.

“Die kragtige aardbewing wat vanoggend plaasgevind het, is in verskeie van die land se streke gevoel. Ons doen ʼn bestekopname van die gebiede wat geraak is,” het hy gesê.

Aardbewings is ʼn gereelde verskynsel in Peru.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PJC ·

ń Mens voel seker maar erg benoud as so ń aardbewing plaasvind. Ek onthou nog die aardbewing van 1969 hier by ons op Tulbagh, Ceres en omgewing. ń Mens weet nie altyd lekker wat jy eerste moet doen in so ń situasie nie. Gelukkig was ons s’n omtrent die helfte so sterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.