Kuba eerste ter wêreld om kleuters in te ent

‘n Driejarige dogtertjie word in Augustus as deel van ‘n entstofstudie by ‘n hospitaal in Havana ingeënt teen Covid-19. (Foto: ADALBERTO ROQUE / AFP)

Kuba het Maandag die eerste land ter wêreld geword om kinders vanaf tweejarige ouderdom teen Covid-19 in te ent.

Lande soos China, die Verenigde Arabiese Emirate en Venezuela het vroeër aangekondig dat hulle van plan is om jonger kinders in te ent, maar Kuba is die eerste om dit te doen.

Die kommunistiese eiland met ’n bevolking van 11,2 miljoen mense, beoog nou om al sy kinders in te ent voordat die skole geleidelik in Oktober en November sal heropen.

Skole in Kuba was sedert Maart verlede jaar nog grotendeels gesluit weens die koronavirus. Die nuwe skooljaar het Maandag op die eiland begin, maar tuis via televisieprogramme, aangesien die meeste Kubaanse huise nie toegang tot internet het nie.

Kuba het Vrydag sy inentingsveldtog vir kinders afgeskop nadat hy sy kliniese proewe van die entstowwe Abdala en Soberana op minderjariges voltooi het.

Dié Kubaanse entstowwe is egter nie portuurbeoordeel nie en wag nog op goedkeuring van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Kinders van 12 jaar en ouer was nietemin die eerste groep om Vrydag met dié entstowwe teen Covid-19 ingeënt te word. Kinders in die ouderdomsgroep twee tot 11 jaar staan nou sedert Maandag in die ry om die entstowwe te ontvang.

Verskeie ander lande is tans besig om kinders 12 jaar en ouer in te ent, terwyl sommige proewe op jonger kinders doen. Chili het Maandag die Chinese Sinovac-entstof vir kinders tussen ses en 12 jaar goedgekeur.

Kuba het die afgelope paar maande ’n opbloei van Covid-19-infeksies beleef. Die eiland se gesondheidstelsel verkeer intussen onder groot druk.

Van die 5 700 Covid-19-verwante sterftes wat sedert die uitbreking van Covid-19 in Kuba aangemeld is, is byna die helfte van dié sterftes die afgelope maand aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.