Kuberkrakers teiken Ferrari se kliëntebesonderhede

Argieffoto (Foto: David Jewiss/Pixabay)

Die luukse Italiaanse motorvervaardiger Ferrari het onthul dat hy die slagoffer was van ʼn kuberaanval wat vertroulike inligting oor sy kliente geteiken het. Die maatskappy het geweier om ʼn losprys te betaal.

Die maatskappy het Maandagaand in ʼn verklaring gesê hy het sy kliënte in kennis gestel en werk daaraan om die veiligheid van sy stelsels op te skerp. “Daar is geen impak op die bedryfsaktiwiteit van ons maatskappy nie”, aldus die verklaring.

“Die kuberkrakers het toegang gehad tot kliëntedata soos name, adresse, e-posadresse en telefoonnommers, maar nie bankbesonderhede nie,” het ʼn woordvoerder Dinsdag aan AFP gesê. “Sover as wat ons weet is niks tot dusver op die internet vrygestel nie. Ons monitor die situasie.”

Ná ʼn ongespesifiseerde losprys geëis is, het Ferrari met ʼn ondersoek begin met behulp van ʼn kubersekuriteitsmaatskappy en owerhede in kennis gestel.

“Dit is Ferrari se beleid om nie gyselaar gehou te word en vir eise te betaal wat kriminele aktiwiteit finansier of bedreigingsakteurs in staat stel om hul aanvalle uit te voer nie.”

Benedetto Vigna, uitvoerende hoof van Ferrari, het kliënte skriftelik in kennis gestel van die voorval. “Ferrari beskou die vertroulikheid van ons kliënte in ʼn baie ernstige lig en begryp die gewig van die voorval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.