Kundiges van WGO toegang tot China geweier

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: (Jean-Christophe Bott/Keystone via AP)

Lede van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wat vandeesweek na China moes reis om die oorsprong van die Covid-19-pandemie te ondersoek, is Woensdag toegang tot dié land geweier.

Altesaam tien kundiges sou vandeesweek ná maande se onderhandelinge met China die land ingaan om vas te stel presies hoe en waar die nuwe koronavirus van diere na mense versprei het.

Volgens Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, was twee van die kundiges reeds onderweg na China toe hul toegang geweier is. Die res van die span se reis na China is gevolglik op die nipper uitgestel.

Hua Chunying, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake, het erken dat die twee WGO-lede nie weens ’n probleem met hul visums toegang tot China geweier is nie, maar dat die finale reëlings rakende die kundiges se besoek nog nie afgehandel is nie.

Chunying het Woensdag aan verslaggewers gesê gesprekke tussen China en die WGO oor die spesifieke datum en ander reëlings rakende die besoek duur voort.

“Die kwessie van naspeuring van die oorsprong [van die virus] is ongelooflik ingewikkeld. Om te verseker dat die werk van die internasionale span kundiges in China vlot verloop, moet ons die nodige prosedures uitvoer en relevante reëlings tref,” het Chunying gesê.

Chunying het verslaggewers daarvan verseker dat China “sy bes doen om goeie toestande te skep vir die internasionale groep kundiges om na die land te kom”.

Ghebreyesus het egter sy teleurstelling te kenne gegee.

Die eerste gevalle van die koronavirus is in Desember 2019 in die Chinese stad Wuhan in die Hubei-provinsie aangemeld waarna China daarvan beskuldig is dat hy geheimsinnig was in die hantering van die uitbreking van die virus.

Wetenskaplikes het aanvanklik geglo dat die virus na mense versprei het by ʼn eksotiese vleismark in Wuhan. Sommiges twyfel nou aan hierdie teorie en meen dat die situasie eerder by die mark vererger is.

Dit word algemeen aanvaar dat die koronavirus oorspronklik van vlermuise afkomstig was, maar die dier wat tussengasheer was en dit van vlermuise na mense oorgedra het, is steeds onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.