Kyk: ‘Aansienlike skade’ ná Tonga-vulkaan uitbars

‘n Skermskoot van satelietbeelde wys die oomblik toe die vulkaan uitgebars het. (Foto: NATIONAL INSTITUTE OF INFORMATION AND COMMUNICATIONS (JAPAN)/AFP)

Die groot vulkaniese uitbarsting in die Stille Oseaan, wat verskeie tsoenami-waarskuwings tot gevolg gehad het, het “aansienlike skade” in Tonga se hoofstad aangerig.

Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, het Sondag gesê ondanks die skade wat in Nuku’alofa aangerig is, is daar nog geen berigte van beserings of sterftes aangemeld nie. ʼn Volledige assessering is egter nog nie moontlik nie weens kommunikasieverbindings wat af is.

Die uitbarsting Saterdag was so kragtig dat dit oor die hele wêreld aangeteken is en tsoenami-golwe van Japan tot in die VSA veroorsaak het.

ʼn Tsoenami-golf van 1,2 m het die Tongaanse hoofstad getref met inwoners wat na hoër gebiede gevlug en hul oorstroomde huise agtergelaat het.

Satellietbeelde wys hoe die Hunga-Tonga-Hunga-Ha’apai-vulkaan uitbars en rook en as in die lug spoeg, met ʼn donderende gebrul wat tot 10 000 km ver in Alaska gehoor is.

Die uitbarsting het tsoenami-golwe oor die Stille Oseaan veroorsaak met golwe van 1,74 m wat in Chanaral, Chili (meer as 10 000 km verder) gemeet is, en kleiner golwe wat langs die Stille Oseaan-kus van Alaska tot Mexiko waargeneem is. Golwe van ongeveer 1,2 m het langs die Stille Oseaan-kus by Japan getref.

Die Amerikaanse geologie-agentskap het Saterdag se uitbarsting aangeteken as gelykstaande aan ʼn aardbewing van 5,8 op nul-diepte. Die uitbarsting het minstens agt minute geduur en het gas, as en rook etlike kilometers die lug ingestuur. Die uitbarsting was so kragtig dat dit selfs in Alaska gehoor is.

Die Hunga-Tonga-Hunga-Ha’apai-vulkaan lê sowat 65 km noord van Nuku’alofa. ʼn Uitbarsting van die vulkaan in 2015 het soveel groot rotse en as in die lug uitgespoeg dat dit ʼn nuwe eiland, 2 km lank by 1 km breed en 100 m hoog, gevorm het. Die vulkaan het ook in 2009 uitgebars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.