Laaste Britse vlugte uit Soedan; situasie nou net té onveilig

Lede van Saoedi-Arabië se veiligheidsmagte staan wag aan boord van ‘n Saoedi-skip by Port Sudan. (Foto: Fayez Nureldine/AFP)

Engeland het Sondag onderneem om steun vir Britte wat in Soedan vasgekeer is, voort te sit, maar sê die omstandighede in die land het nou ʼn punt bereik waar dit eenvoudig té gevaarlik is om verdere ontruimingsvlugte te onderneem.

Die laaste vlug van die Koninklike Lugmag (RAF) het die Wadi Saeedna-vliegveld, noord van Khartoem, laat Saterdag verlaat – vier uur agter skedule. Dit het die getal Britte en hul afhanklikes wat sedert Dinsdag uit die land geneem is op 1 888 te staan gebring.

“Die ontruiming was die langste en grootste van enige Westerse land,” het Mark Harper, minister van vervoer, aan Sky News gesê.

“Ons het 1 888 Britte en afhanklikes uitgeneem, ʼn getuigskrif van ʼn uiters suksesvolle ontruimingspoging.

“Ons gaan voort om konsulêre steun vanuit Soedan te verleen,” sê hy.

Engeland se departement van buitelandse sake het ook ʼn kantoor in Port Sudan oopgemaak vir diegene wat ter see na Saoedi-Arabië wil vlug.

Die Britse regering het ontken dat hy enigiemand in Soedan net agtergelaat het, nadat opposisiepartye hom daarvan beskuldig het dat hy dieselfde foute gemaak het as tydens die land se chaotiese onttrekking uit Afghanistan.

Volgens Harper is daar verlede week op ʼn Turkse vliegtuig in Soedan gevuur “wat wys die ontruiming was nie sonder risiko nie en dat ons nie onbepaald hier kan aanbly nie”.

Aktiviste betoog vandeesweek voor die Withuis in Washington in die VSA en pleit vir ingryping in die Soedannese oorlog. (Foto: Daniel Slim/AFP)

“Ons het dit egter duidelik aan Britse burgers gestel dat hulle by die vliegveld moet uitkom om na veiligheid gebring te word.”

Sowat 2 000 Britte in Soedan het hul name opgegee op Engeland se lys van burgers in die land, en enigiemand wat daarvoor in aanmerking gekom het, is tot Saterdagoggend gegun om die vliegveld te bereik.

Ná skerp kritiek tuis, het die Britse regering Vrydag ingestem dat Soedannese dokters wat in die Britse Nasionale Gesondheidsdiens werk, ook verwyder kan word.

ʼn Soedannese dokter, Abdulrahman Babiker, wat in ʼn hospitaal in Manchester werk, is een van diegene wat aanvanklik nie op een van die vlugte toegelaat is nie. Hy is later aan boord van ʼn RAF-vlug na Ciprus toegelaat.

“Ek is dankbaar dat ek uiteindelik op ʼn veilige plek is, ver van die oorlog en op pad terug na die Verenigde Koninkryk. Terselfdertyd is dit neerdrukkend omdat my pa, my ma, broer en suster steeds weens die dodelike gevegte in my land in gevaar is,” sê Babiker.

“Ek probeer dink wat ek kan doen om hulle uit die gevaarsone te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.