Laaste oorblywende van dié stam ook oorlede

Skermskoot uit die video

Beamptes van Funai, Brasilië se organisasie wat inheemse bevolkings beskerm, sê die laaste oorblywende lid van ʼn stam wat al jare lank gevolg word, is oorlede. Dié stam is nou amptelik uitgesterf, berig die BBC.

Die liggaam van die man, vermoedelik ongeveer 60 jaar oud, is verlede Dinsdag deur Funai-beamptes in ʼn hangmat buite sy strooihut in Rondonia aangetref. Daar was “nie enige teken van ʼn struweling, geweld of teenwoordigheid van ander mense in die gebied nie”, aldus CNN.

Beamptes glo die man is weens natuurlike oorsake dood. Hy het helderkleurige vere om sy lyf geplaas, ʼn teken dat hy vermoedelik geweet het hy gaan sterf, berig die Guardian.

Die man het vir meer as ʼn kwarteeu alleen op die Tanaru- inheemse grond in die Amasone-reënwoud gewoon ná ses lede van sy stam in 1995 doodgemaak is. Die meeste van die res van die stam is vermoedelik in die 1970’s uitgemoor toe veeboere hul eie grondgebied wou vergroot en in die inheemse grondgebied inbeweeg het.

Funai-personeellede het in 2018 beeldmateriaal van die man verfilm waar hy ʼn boom afkap met ʼn stuk gereedskap wat soos ʼn byl lyk. Dit was die laaste keer dat hy amptelik opgemerk is.

Ná daardie voorval het beamptes op sy hutte afgekom en gate wat hy gegrawe het – vermoedelik ʼn lokval vir diere of om weg te kruip. Dit het hom die bynaam “Man van die gat” besorg.

Hy was nie ontvanklik vir enigiemand onbekend nie. Hy het pyle geskiet na enigiemand wat hom wou nader.

Funai het kos, sade en stukke gereedskap vir hom neergesit en het hom dekades lank gevolg vir sy eie veiligheid. Hy het egter nooit enige van die geskenke aanvaar nie. Funai-beamptes sê hy het waarskynlik ʼn goeie rede gehad: in die 1980’s het veeboere “geskenke” met rottegif uitgesit en dit het talle lede van sy stam doodgemaak.

“Met sy afsterwe is die menseslagting van sy volk afgehandel,” het Fiona Watson van die menseregtegroep Survival International aan CNN gesê. “Dit was inderdaad ʼn menseslagting – die doelbewuste uitwissing van ʼn hele volk deur veeboere wat grond en rykdom nagejaag het.”

Die polisie stel ondersoek in na die man se afsterwe. Sowat 300 inheemse volke woon steeds in Brasilië, waarvan ongeveer 30 stamme diep in die reënwoud woon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Nie net sterf die diere uit nie, maar gemeenskappe en die mensdom. Dit alles net vir mag en rykdom. Ons as mens is darem maar bitter selfsugtig. Mag die “gat man” ewige rus vind in wat hy ook al sou geglo het.

madels ·

Dit is bitter hartseer wat hier gebeur het, ook hartseer dat die wat so uitgemoor is dalk nie Jesus geken het nie…

Is dit nie maar ook wat hier in SA gebeur dat stadig maar seker die boere uitgemoor word nie? Dis kommerwekkend hoe die moord syfer op boere weer skerp begin styg het :-(

Delia ·

Dis dalk bitter hartseer dat ons Jesus nie regtig ken, maar dat die stam wat van die aarde geleef het dalk van die mense was wat God regtig ken/geken het.

Janee ·

En tog…..God se genade is onbeskryflik groot en Hy het hom sekerlik met ope arms ontvang….al het hy nooit die geleentheid gehad om Hom te ken nie….

Nikolaas ·

Die verslag laat na om te sê of diegene wat lede van die stam vermoor het ooit vervolg is.

Frank John ·

Gierigheid is die wortel van alle kwaad. Na regte moes daai “gierige boere” vir moord vervolg word. Jy kannie mense dood maak asof hulle diere is wat gejag kan word nie. Net omdat hulle nog wild in die bos lewe nie. Alle mense is na God se ewebeeld en na Sy gelykenis geskape.

Driekus ·

Dis nogal hartseer. Dis asof dit maar net verwag was om te gebeur een of ander tyd. Daar kon sekerlik effens meer gedoen geword het om werklik met die mens in aanraking te probeer kom. Mediese ondersoeke ens op hom toegepas word om te verseker hy is gesond en so sy vertroue te wen. En hom dan weer in sy Bos (HUIS) vry te laat.

Delia ·

O nee, Westerse ingryping is wat al baie probleme veroorsaak het. Want daarmee saam, het Mammon gekom. Let them be

Windhond ·

Ons Koi stam is volgende as hulle nie hul self beskikking terug gegee word nie

Janee ·

Ek ween!….vir hoelank sal die oorblywende stamme daar nog bestaan met die gierigheid van die mens…

Republikein in die Wes Kaap ·

My agter-agterkleinseun gaan moontlik die laaste Afrikaner in die land wees. Sal so eensaam tussen oorblyfsels van geboue rondswerf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.