Lank lewe koning van rock ʼn roll; ‘Elvis’ terug op verhoog

Elvis Presley (Foto: MGM/Collection Christophel/AFP)

Die koning van rock ʼn roll is eersdaags weer op die verhoog te sien. Danksy kunsmatige intelligensie (KI) word ʼn nuwe Elvis Presley-vertoning later vanjaar in Londen aangebied.

Die vertoning genaamd “Elvis Evolution” behels ʼn lewensgrootte digitale Elvis wat op die verhoog optree.

Die Britse maatskappy Layered Reality het die skouspel saamgestel deur gebruik te maak van KI, holografiese projeksies, teaterproduksies en multisensoriese effekte.

Volgens die maatskappye is die vertroning geskep om die bekende sanger se lewe en nalatenskap vier.

Andrew McGuinness, uitvoerende hoof van Layered Reality, beskryf die vertoning as ʼn “volgende generasie se huldeblyk aan die musikale legende – Elvis Presley”.

Die vertoning beloof om voorheen ongesiene optredes deur Elvis te bevat. Dit is deur duisende persoonlike foto’s en tuisvideo’s wat in oorleg met die Authentic Brands Group, wat Elvis se boedel besit, geskep.

“Elvis behou sy superster-status wêreldwyd en mense oor die wêreld heen wil nie meer daar sit en passief vermaak ontvang nie – hulle wil deel daarvan wees,” het McGuinness gesê.

Die vertoning, wat geskeduleer is om in November te begin, sal musiek, tegnologie en stories gebruik om Elvis se opkoms tot roem en sy kulturele betekenis in die 1950’s en 1960’s te karteer.

Elvis Evolution sal die eerste in ʼn reeks van vertonings wees wat in Las Vegas, Tokio en Berlyn aangebied word.

Elvis, wat een van die wêreld se topmusiekkunstenaars van alle tye is, is in 1977 in die ouderdom van 42 in sy Graceland-herehuis in Memphis, Tennessee, dood.

Elvis Evolution kom ná die sukses van die Sweedse sanggroep ABBA se “ABBA Voyage” wat digitale avatar-vertonings gehou het. Bloomberg het in September verlede jaar berig dat dié vertoning meer as 1,5 miljoen kaartjies verkoop en meer as $150 miljoen (R2,8 miljard) in inkomste genereer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.