Lewenslank ná man met motor in skare ploeg

Foto: Jean-christophe Verhaegen / AFP

ʼn Man van Duitsland is Dinsdag lewenslange tronkstraf opgelê en is vir sielkundige behandeling gestuur ná hy in Desember 2020 in ʼn groep Kersfees-inkopiegangers geploeg het. Ses mense, insluitend ʼn baba, is dood.

Die streekhof in die suidwestelike stad Trier het bevind Bernd Weimann (52) het deur ʼn besige voetgangerspad met sy sportnutsvoertuig gejaag. Hy het lukraak passasiers met sy voertuig geteiken voor hy uit die motor geklim en in hegtenis geneem is.

Hy is skuldig bevind op vyf aanklagte van moord en 18 van poging tot moord. Die sesde slagoffer is byna ʼn jaar ná die aanval oorlede.

Weimann ly aan sielkundige probleme en was onder die invloed van alkohol toe hy deur die inkopiegangers gebars het en ʼn baba, haar pa en vier ander se lewe geëis het.

Staatsaanklaers het tydens die jaar lange hofsaak aangevoer Weimann het die aanval beplan “met die doel om so veel as moontlik mense te beseer of te dood”.

Foto: STEIL-TV/AFP

ʼn Kenner se evaluasie voor die hofsaak het bepaal hy ly aan skisofrenie wat met paranoïede gepaardgaan. Weimann kon slegs beperkte en soms teenstrydige weergawes van die gebeure aan die polisie verskaf.

Ondersoekbeamptes het ten tyde van die voorval enige politieke, terreur of godsdienstige motiewe uitgeskakel. Daar is ook nie enige van dié motiewe bepaal tydens die hofsaak nie.

Volgens die staat was Weimann gefrustreerd met sy persoonlike omstandighede. Hy het voor die aanval geen vaste adres gehad nie en het in ʼn veldvoertuig gebly. Sy waargenome mishandeling deur staatsamptenare het by Weimann ʼn “algemene haat jeens die mensdom” gekweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

“Hy het voor die aanval geen vaste adres gehad nie en het in ʼn veldvoertuig gebly.” In die wonderlike Duitsland van alle plekke? Hoe dan so?

Nico ·

Jaco, die mense dink verniet dat Duitsland geen probleme het nie. Toe ek en my vrou by my seun in Saarbrucken gaan kuier het was daar heelwat bedelaars, baie sit daar met hul honde. Die dorpie Trier is uur se ry vanwaar my seun bly. Maak nie ‘n fout nie, die infrastuktuur is in orde, geen potholes, geen loadshedding, geen probleme met water en riool nie, die plekke en parke is skoon want die Duitsers werk self daar, daar is selfs vrouens wat die toilete skoon maak.

Maritza ·

Sal wonderlik wees as hulle in SA ook sulke ordentlike straf uitdeel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.