Lucy Letby: Dokters se waarskuwings val maande lank op dowe ore

Lucy Letby (Foto: Twitter)

Hospitaalbase in Engeland het aanvanklik versuim om die verdoemende bewerings wat dokters teen die nou veroordeelde verpleegster Lucy Letby geopper het, te ondersoek. Die dokters is inderwaarheid destyds aangesê om die aantygings teen Letby te staak en gedwing om haar om verskoning te vra.

Só berig BBC ná ʼn ondersoek na hoe Letby vir so lank met moord weggekom het.

Maroela Media het vroeër berig Letby (33) is Vrydag daaraan skuldig bevind dat sy in 2015 en 2016 sewe pasgebore babas vermoor het en ses ander in die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal in Engeland om die lewe probeer bring het.

Dokters by die hospitaal het egter lankal onraad vermoed. Hul noodkrete het egter destyds op dowe ore geval.

ʼn Ondersoek deur BBC Panorama en BBC News het egter nou ʼn aantal mislukkings deur die bestuur van die hospitaal onthul en ernstige vrae laat ontstaan oor die hospitaal se destydse reaksie op die sterftes.

BBC berig net twee of drie babas per jaar sou voor Junie 2015 in die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal sterf. In die somer van 2015 was daar egter iets ongewoons aan die gebeur.

Dr. Stephen Brearey, hoofkonsultant van die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal, het in Oktober 2015 vir die eerste keer sy kommer oor Letby uitgespreek. Die hospitaal se bestuur het egter destyds versuim om ondersoek in te stel.

Letby sou daarna nóg vyf babas teiken van wie twee toe dood is.

Teen Junie 2016 (ná die laaste twee moorde) het Brearey daarop aangedring dat Letby van diens geneem word. Hospitaalbestuurslede het aanvanklik geweier.

Drie babas is reeds in daardie Junie binne die bestek van twee weke dood. Die sterftes was onverwags en Brearey het ʼn vergadering met die bestuurder van die neonatale eenheid en die hospitaal se direkteur van verpleging belê.

Lucy Letby (Foto: Facebook)

“Ons het probeer om so deeglik moontlik te wees,” onthou Brearey.

ʼn Personeelontleding het in daardie stadium gewys dat Letby vir al drie sterftes aan diens was. “Ek dink ek het nog gesê: ‘O nee, dit kan nie Lucy wees nie. Nie vriendelike Lucy nie,’” onthou Brearey.

Dit het egter nog nie in daardie stadium gelyk of die drie sterftes “iets gemeen” gehad het nie en nóg Brearey nóg ander personeel het gemene spel vermoed.

Maar teen Oktober 2015 het dít verander. Nog twee babas het in daardie stadium in die neonatale eenheid omgekom en Letby was weereens aan diens tydens albei sterftes.

Brearey het toe sterk begin vermoed dat Letby by die sterftes betrokke is en weer die eenheidsbestuurder, Eirian Powell, genader. Powell het nie sy bekommernisse gedeel nie.

Powell het volgehou dat die oorsaak van elkeen van die babas se dood verskil het en dat die verbintenis met Letby bloot toevallig was.

Brearey het ook daardie maand sy bekommernis by die direkteur van verpleging, Alison Kelly, geopper. Hy het nooit van Kelly teruggehoor nie.

Brearey se medekonsultante was in daardie stadium ook bekommerd oor Letby.

Die konsultant, dr. Ravi Jayaram, onthou dat hy in Februarie 2016 gesien het hoe Letby staan en kyk na ʼn baba wat blykbaar ophou asemhaal het.

Brearey het Kelly en die hospitaal se mediese direkteur, Ian Harvey, genader om ʼn dringende vergadering te belê. Hy het ook vroeg Maart aan Powell geskryf: “Ons moet nog oor Lucy praat.”

Drie maande het verbygegaan, en nog twee babas het amper gesterf. In Mei daardie jaar kon Brearey uiteindelik die vergadering bywoon waarvoor hy gevra het. “Daar kon geen twyfel wees oor my bekommernisse by daardie vergadering nie,” sê hy nou.

Kelly en Harvey het na sy bekommernisse geluister, maar nie opgetree nie en Letby is toegelaat om aan te hou werk.

Vroeg in Junie het nog ʼn baba ineengestort. Toe, teen die einde van die maand, sterf twee babas van ʼn premature drieling onverwags binne 24 uur van mekaar. Letby was weereens aan diens ten tyde van die sterftes.

Brearey en sy kollegas was in daardie stadium oortuig daarvan dat Letby verantwoordelik is vir die sterftes en Brearey het daardie selfde aand vir Karen Rees, uitvoerende dienshoof, gebel en geëis dat Letby ontslaan word. Sy het geweier.

Brearey sê hy het haar uitgedaag of sy hierdie besluit teen die wense van sewe konsultant-pediaters neem, asook gevra of sy verantwoordelikheid sal aanvaar vir enigiets wat die volgende dag met ander babas kan gebeur. Rees het glo “ja” geantwoord.

Die volgende dag is nog ʼn baba amper dood. Letby was wéér aan diens. Sy sou nóg drie skofte werk voordat sy uiteindelik uit die neonatale eenheid verwyder is – langer as ʼn jaar ná die eerste voorval.

Die verdagte sterftes en ineenstortings van babas het skielik opgehou.

Maroela Media het vroeër berig Letby is eindelik in 2018 in hegtenis geneem. Sy is tydens haar verhoor daarvan beskuldig dat sy doelbewus lug in die bloedstroom van talle siek of vroeggebore babas gespuit het, hulle met melk oorvoed en met insulien vergiftig het.

Letby se jongste slagoffer, ʼn baba wat vroeggebore is, was net ʼn dag oud en “gesond”, maar het binne 90 minute gesterf nadat Letby op 8 Junie 2015 vir diens aangemeld het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.