Madeleine McCann: ‘Getuie in saak onbetroubaar’

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het.

Die prokureur van die verdagte in die destydse verdwyning van Madeleine McCann voer nou aan dat die belangrikste getuie teen sy kliënt ’n misdadiger is wat inligting uitgeruil het in ruil vir gunste van die polisie.

Die driejarige Madeleine het in 2007 in Portugal verdwyn.

’n Duitse aanklaer verdink die veroordeelde verkragter Christian Brückner (43) daarvan dat hy Madeleine destyds uit haar ouers se vakansiewoonstel in Praia da Luz, Portugal, ontvoer en later vermoor het. Brückner is egter nog nie van moord aangekla nie weens ’n tekort aan bewyse.

Dít terwyl die Britse polisie reeds miljoene pond aan die saak bestee het.

Luidens inligting het ’n staatsgetuie aan speurders gesê Brückner het destyds in ’n kroeg teenoor hom gebieg dat hy weet wat van Madeleine geword het.

Friedrich Fulscher, Brückner se regsverteenwoordiger, voer nou aan dat die getuie vroeër uit ’n tronk in ’n vreemde land vrygelaat is in ruil vir dié inligting. “As dit dieselfde persoon is, dink ek dit is die swakste getuie wat jy kan kry. ’n Mens wat sy hele lewe deurgebring het om mense tot eie voordeel te kul, is nooit ’n betroubare getuie nie,” het Fulscher aan SkyNews gesê.

Die woonstelblok in Portugal waar Madeleine McCann destyds verdwyn het. (Foto: AP Photo/Armando Franca)

Die Duitse aanklaer Hans Christian Wolters het intussen gesê hy is steeds op soek na belangrike bewyse teen Brückner en het nog nie sy verdagte ondervra nie.

Brückner dien tans tronkstraf uit in ’n tronk in die noorde van Duitsland vir verkragting en dwelmhandel. Hy is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders.

Volgens Fulscher is Brückner tans vir 23 uur per dag in ’n sel van sewe vierkante meter geïsoleer. Hy mag een uur per dag oefen.

Fulscher hou vol dat sy kliënt nié betrokke was by die ontvoering van Madeleine nie. “Ek dink nie hy is iemand wat alles reg gedoen het in sy lewe nie, maar dit beteken nie dat jy hom skielik kan veroordeel vir dinge wat hy nie gedoen het nie.”

Brückner het jare lank in Portugal gewoon en het ten tyde van Madeleine se verdwyning in die Algarve-streek gewoon.

Owerhede soek na Madeleine McCann. (Foto: AP Photo/Martin Meissner)

Die Britse polisie het intussen aan Express.co.uk bevestig dat die koste van die ondersoek vanaf Mei 2011 tot April vanjaar reeds £12 124 870,46 (sowat R275 miljoen) beloop het.

Die polisie het luidens inligting in Februarie ʼn begroting vir die volgende jaar se ondersoek ingedien. “Dit is goeie nuus dat die polisie ’n nuwe begroting versoek om voort te gaan met die soektog na Madeleine,” het die McCanns se familiewoordvoerder, Clarence Mitchell, gesê.

Maroela Media het vroeër berig opgrawings in Duitsland is verlede maand gedoen as deel van die ondersoek na Madeleine se verdwyning.

Dít nadat Madeleine se ouers, Kate en Gerry, skriftelik deur Duitse aanklaers ingelig is dat daar bewyse is dat Madeleine dood is.

Die owerhede in Portugal het ook verlede maand met soektogte begin om Madeleine se liggaam te probeer opspoor. Die soektogte in putte aan die Algarve-kusstreek het egter ook nog niks opgelewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Ek glo die ouers sal.ook graag wil weet , al kan hulle net die liggaampie vind.

Cherokee ·

Ek weet nie of daar waar Madeleine nou is, inligting ontvang word van wat hier aangaan nie. Maar indien wel, glimlag sy dalk, wetende dat sy een van die opspraakwekkendste ondersoeke tot gevolg gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.