Maleisië dalk gasheer vir 2026-Statebondspele

Argieffoto van Singapoer. (Foto: Unsplash)

Die Olimpiese Raad van Maleisië oorweeg dit om ’n “afgeskaalde” Statebondspele in 2026 aan te bied. Die finale besluit lê egter by die Maleisiese regering.

“Dit hoef byvoorbeeld nie 15 sportsoorte in te sluit nie. Dit kan 10 sportsoorte wees, wat ’n kleiner opening- en afsluitingseremonie tot gevolg sal hê,” het die sekretaris-generaal van die Olimpiese Raad van Maleisië, Mohamad Nazifuddin Najib, Maandag gesê.

“Dit alles kan dus bespreek word, maar ons sal wag op die besluit van die kabinet,” het Najib gesê.

Die Maleisiese minister van sport, Hannah Yeoh, het intussen bevestig dat die regering dit tog oorweeg om die 2026-Statebondspele aan te bied.

“Die belangrikste is dat wanneer die besluit geneem word, ons julle daarvan kan verseker dat die besluit geneem is nadat al die moontlike invalshoeke in ag geneem is,” het Yeoh aldus die New Straits Times gesê.

Die Statebondspelefederasie skarrel om ’n gasheer te vind nadat die Australiese deelstaat Victoria in Julie verlede jaar aangekondig het dat hy nie meer bereid is om as gasheer in 2026 op te tree nie, weens die enorme verwagte koste daaraan verbonde.

Daniel Andrews, premier van Victoria, het verlede jaar verduidelik dat die aanvanklike skatting van A$2 miljard (ongeveer R24 miljard) wat nodig is om die Statebondspele aan te bied, waarskynlik eerder op sowat A$7 miljard (meer as R85 miljard) te staan gaan kom, wat hy as “voorwaar té veel” bestempel het.

Die besluit van die Australiërs en die gebrek aan ’n voor die hand liggende alternatief, het intussen ’n debat oor die toekoms van die Statebondspele ontketen, wat elke vier jaar plaasvind en laas in 2022 in Birmingham gehou is.

Maleisië het verlede week gesê die Statebondspelefederasie het “’n beduidende finansiële belegging van £100 miljoen” aangebied om die Suidoos-Asiatiese nasie finansieel te help om die Spele aan te bied.

Singapoer, wat beoog om meer grootskaalse sportbyeenkomste aan te bied, het verlede week gesê hy “beoordeel die haalbaarheid” van die Statebondspelefederasie se uitnodiging om die Spele aan te bied.

Dié ryk stadstaat hou jaarliks die Formule Een-nagwedren en sal in 2025 die Wêreldwaterkampioenskap aanbied.

Die Olimpiese Jeugspele is ook in 2010 in Singapoer gehou.

Sommige waarnemers het gesê dat Maleisië en Singapoer die geleentheid saam moet aanbied, ’n punt wat ook deur die Olimpiese Raad van Maleisië geopper is.

“Die moontlikheid bestaan dat ons met Singapoer kan saamwerk, maar dit is ook moontlik dat Singapoer kan besluit om as organiseerder oor te neem en dan mis ons hierdie geleentheid,” het Nazifuddin gesê.

Song Seng Wun, ekonomiese adviseur van die finansiële instelling CGS International, het intussen aan AFP gesê “’n aansienlik afgeskaalde Spele sal meer uitvoerbaar wees, maar sal steeds ’n aansienlike bedrag geld vereis”.

’n Gesamentlike bod is volgens hom “die enigste beskikbare oplossing”.

“Singapoer is te klein en sal meer infrastruktuurinvestering nodig hê,” het Song verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ryan ·

Was baie daar vir besigheid. Dit is n mooi plek. Net jammer dat hulle Indiërs en Chinese soos slawe en derderangse burgers behandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.