Man in sop oor eendbekdier op trein

Eendbekdier in Tasmanië (Foto: Klaus – Flickr: Wild Platypus 4 via Wikimedia Commons)

Vergeet maar van die Hollywood-fliek Snakes on a Plane – ’n Australiër is in die sop omdat hy met ʼn eendbekdier op ʼn trein gereis het.

Die polisie het ʼn versoek aan die publiek gerig nadat die 26-jarige man, vergesel deur ʼn vrou, op ʼn trein opgemerk is met ʼn wilde eendbekdier wat in ʼn handdoek toegedraai is.

Die man is aangekeer en sal Saterdag in die hof verskyn op aanklagte van dierebeskerming. Hy word daarvan beskuldig dat hy die dier uit ʼn waterweg in die noorde van Queensland verwyder het en daarna met die dier op ʼn trein na ʼn winkelsentrum gery het.

“Die staat sal ook aanvoer die twee het die dier vir verskeie lede van die publiek gewys by die winkelsentrum,” het Queensland-polisie in ʼn verklaring gesê.

Spoorwegbeamptes het die man aangekeer en hulle het ook met die vrou, wat by hom was, gesels.

Die eendbekdier se lot is egter onbekend.

“Die polisie is in kennis gestel dat die dier in die Caboolturerivier vrygelaat is. Owerhede kon hom egter nog nie weer opspoor nie,” het die polisie bygevoeg. “Sy toestand is onbekend.”

Kringtelevisiefoto’s wys hoe ʼn man op ʼn platform noord van Brisbane met die eendbekdier, omtrent so groot soos ʼn klein katjie, onder sy arm loop. Die man en die vrou het dit in ʼn handdoek toegedraai en dit aan medepassasiers gewys.

Volgens Queensland se dierebeskermingswette is dit onwettig om “een of meer” eendbekdiere uit die natuur te verwyder. ʼn Maksimum boete van AUD430 000 (sowat R5,2 miljoen) kan opgelê word.

“Dit is nie net onwettig om ʼn eendbekdier uit die natuur te verwyder nie, dit kan ook gevaarlik wees vir die dier en die persoon wat die dier verwyder. Manlike eendbekdiere het boonop ʼn toonnael op sy agterpote wat giftig is,” het die polisie bygevoeg. “As jy so gelukkig is om in die natuur op ʼn eendbekdier af te kom, hou eerder jou afstand.”

Met gewebde pote vir swem en ‘n groot, rubberagtige snoete, het Britse wetenskaplikes aanvanklik gedink iemand het ʼn poets gebak toe hulle in die laat 18de eeu vir die eerste keer op die dier afgekom het.

Weens droogte, habitatverlies en besoedeling is die bevolking van eendbekdiere besig om drasties af te neem. Dit is een van die min soogdiere wat ‘n eier lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.